ToekomsVenster: Die man met die gebreklike hand

hart-strande-sonsopkoms

Foto: Cason Asher/Unsplash.com

Jesus het weer na die sinagoge toe gegaan. Daar was ‘n man met ‘n gebreklike hand. Die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om te sien of Hy hom op die Sabbatdag sou gesond maak, sodat hulle vir Jesus daaroor kon aankla. Hy sê toe vir die man met die gebreklike hand: “Staan op hier tussen hulle!” – Markus 3:1-6

Stel jouself die gesprek tussen Jesus en die Fariseërs voor. Die gesprek is uit huis uit arrogant en verwaand. Jesus mag nie goed doen op die Sabbatdag nie. Die man se hand kan veel eerder gebreklik bly as wat hul uiterlike godsdiens se armoede ten toon gestel word.

Jesus se vraag is skerp en bring tot nadenke. Hy roep die man na vore en maak ’n les van die geleentheid. Die Fariseërs antwoord Jesus niks nie maar gaan desondanks voort met hul agterbakse optrede aangevuur deur hul verterende jaloesie.

Die saak was nie die Sabbat nie. Dit het oor Jesus se gewildheid gegaan en meer as dit, dit is Jesus se gesag teenoor hul kragteloosheid en gebrek aan integriteit wat hul teen die bors gestuit het.

Jesus is kwaad en bedroef oor hul verhardheid. (VER-HART-HEID)
Hoe lyk jou hart vandag voor God en sy Seun?

Harde harte, klip harte is die onderwerp van onder andere Esegiël 36. Harde harte weerstaan God se goeie bedoelings met mense, dit saai vooroordeel, agterdog en teenstand. Dis met so ʼn hart dat elkeen van ons na God kom.

Soos Nikodemus in die nag vra ons na die pad na God se hart. Hy wil met ons praat oor sake van die hart. Dis die hart sê die Skrif waar al die lelike dinge vandaan kom. Die bron moet aangespreek word.

Dis die put waar bitter water uitvloei. God wil dit verander, Hy kan dit verander en het gedoen wat nodig is dat dit verander kan word.
Sy seun oorrompel harde harte, versag dit met sy liefde, omgee en barmhartigheid.

Nuwe harte is God se besigheid.
Het jy al ʼn nuwe hart?

Hoe reageer jy op mense wat ʼn appel maak op jou tyd, geld, aandag, omgee, begrip, deernis, geduld? Skort dit ook met jou hart?
Jesus maak harde harte sag. Hy neem klipharde harte weg en vervang dit met harte van vlees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Pragtige uiteensetting.
Jesus leer die mense ook hiermee dat Hy die God van die Sabbat is en ook mag oor die Sabbat het. Die Fariseërs (hoewel nie almal nie) het die Sabbat verhef tot afgod met al hul Talmudiese voorskrifte.
Die Sabbat is ‘n teken (Exodus 31:13 & 17) tussen ons en God, dit is ons getuienis dat ons die God van die 7-daagse skepping dien. Ons dien nie die Sabbat nie, NEE, ons dien die God wat die Sabbat ingestel het.
Daar is duidelik 2 kampe in die Fariseërs geledere, die in konfrontasie met Jesus vir wie Hy sê: Julle vader is nie My Vader nie (en ons weet dit beteken groot moeilikheid vir hulle, ook let ons op dat Hy hulle nie probeer leer nie maar net teen hulle getuig.) Die ander groep is dan die wat by implikasie wel Sy kinders is onder die Fariseërs byvoorbeeld Nikodemus vir wie Hy moeite doen om hom te leer.
Net so kry ons vandag daardie selfde 2 groepe onder ons Leraars (en ons mense). Hoe ken ek hulle uitmekaar? Die een spreek die Woorde van God en die ander groep spreek ander se woorde of hul eie woorde. Jesus sê: Johannes 12:49 “Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ’n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.