ToekomsVenster: Die man met die gebreklike hand

liefde-hout-hart

Foto: Ben_Kerckx/Pixabay.com

Jesus het weer na die sinagoge toe gegaan. Daar was ‘n man met ‘n gebreklike hand. Die Fariseërs het vir Jesus dopgehou om te sien of Hy hom op die Sabbatdag sou gesond maak, sodat hulle vir Jesus daaroor kon aankla. Hy sê toe vir die man met die gebreklike hand: “Staan op hier tussen hulle!” Daarna vra Hy vir hulle: “Mag ‘n mens op die Sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of doodmaak?” Hulle het egter niks gesê nie. 5Hy het hulle rondom Hom kwaad aangekyk en was diep bedroef oor hulle verhardheid. Hy sê toe vir die man: “Steek jou hand uit!” Hy het sy hand uitgesteek en dit was gesond. Die Fariseërs het uitgegaan en dadelik met die Herodiane ‘n komplot teen Jesus gesmee om Hom om die lewe te bring. – Markus 3:1-6

Stel jouself die gesprek tussen Jesus en die Fariseërs voor. Dis ’n arrogante en verwaande gesprek, want in die Fariseërs se oë mag Jesus op die Sabbatdag nie goeie dinge doen nie. Nee, die man se hand kan veel eerder gebreklik bly as wat hul figuurlike armoede ten toon gestel word. Vir hulle gaan dit immers oor die uiterlike vertoon van godsdiens.

Jesus se antwoord is skerp en bring ’n mens tot nadenke. Die Fariseërs antwoord Hom glad nie en ten spyte van dit wat Hy sê, gaan hulle voort met hul agterbakse optrede. Hul optrede word aangevuur deur hul verterende jaloesie, want eintlik het dit nie oor die Sabbat gegaan nie. Dit het oor Jesus se gewildheid gegaan. Jesus se gesag in teenstelling met hul kragteloosheid en gebrek aan integriteit het hulle dwars in die krop gesteek.

Kan jy jouself Jesus se reaksie voorstel? Kwaad en bedroef oor hul verhardheid.

Hoe lyk jóú hart vandag voor God en sy Seun?

Die onderwerp van teksgedeeltes soos Esegiël 36 is harde harte – klipharte. Harde harte weerstaan God se goeie bedoelings met mense; dit saai vooroordeel, agterdog en teenstand. Dis met só ʼn hart dat elkeen van ons na God toe kom. Soos Nikodemus in die nag vra ons wat die pad na God se hart toe is. God wil met ons praat oor sake van die hart, want dis die hart, sê die Skrif, waar al die lelike dinge vandaan kom. Dis die put waar bitter water uitvloei. En die bron moet aangespreek word.

God wíl dit verander, Hy kán dit verander en Hy hét gedoen wat nodig is dat dit verander kan word. Sy Seun oorrompel harde harte en versag dit met sy liefde, omgee en barmhartigheid.

Nuwe harte is God se besigheid. Het jý al ʼn nuwe hart?

Hoe reageer jy op mense wat aanspraak maak op jou tyd, geld, aandag, omgee, begrip, deernis en geduld? Skop jou hart daarteen? Wend jou dan tot Jesus; Hy maak harde harte sag. Jesus neem klipharte weg en vervang dit met harte van vlees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elma Maartens ·

Ai, waardeer hierdie dagstukkies so baie elke dag. Versterk die innerlike. Baie dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.