ToekomsVenster: Die moeder en die broers van Jesus

gebed-en-sang

Foto: Sarah Noltner/Unsplash.com

Sy moeder en sy broers het toe gekom. Hulle het buite bly staan en ‘n boodskap na Hom toe gestuur om Hom te roep. ‘n Menigte mense het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters daar buite soek U.” Maar Hy sê vir hulle: “Wie is my moeder en my broers?” Hy het die mense aangekyk wat in ‘n kring om Hom sit en gesê: “Hier is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.” – Lees Markus 3:31-35

Ai, Jesus is sy radikale self. Hy krap mense se maniere van dink en doen om.

Daar is ʼn verwantskap wat van ʼn hoër orde is. Dis ʼn geloofsgebaseerde verwantskap. Kinders van die Here wat Hom liefhet en sy gebooie bewaar.

Dis hartseer, maar waar dat daar “bloed broers en susters” is wat die Here nie ken nie en onverskillig staan teenoor Hom. As hulle in hul ongehoorsaamheid volhard mag hulle die ewigheid misloop.

Aan die ander kant word ons “geloofsbroers en susters” verteenwoordig deur mense van alle tye, kulture en tale. Dis die skare wie ons voor die troon van God vind en waarvan Openbaring getuig.

Ps. 131 getuig van die besondere seën wat deel is van broers en susters wat in eenheid saamwoon en werk. Die olie loop letterlik van kop tot tone, dis ʼn omvattende seën en bemagtiging deur die Gees.

Ons word so maklik verlei om as kinders van die Here stelling teenoor mekaar in te neem eerder as om die dinge te vind waaroor ons saamstem en dit te vier. Ons leef in ʼn tyd van diversiteit. Ons vind ons gemeenskaplikheid egter in ons getuienis en oortuiging dat Jesus die Here is, dat sy versoeningsdood lewe bring en dat Sy Koninkryk ʼn deurberekende werklikheid is.

Inderdaad. Dis goed en mooi as broers in eenheid saam woon. Dis n getuienis teenoor die wereld ( Joh.17) So vind ons die nuwe Testamentiese kerk, eendragtig in gebed en toewyding.

Streef jy ook na die eenheid wat ware gelowiges in Christus saambind?

Ps. 133 ‘n Pelgrimslied van Dawid – Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! Dit is soos reukolie wat van die kop af in die baard afloop, die baard van Aäron, af tot by die soom van sy klere. Dit is soos die dou van Hermonberg wat op die berge by Sion val. Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën: ‘n lang, lang lewe

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cornelia ·

Amen. En op u vraag antwoord ek met ‘n versugting: Ja.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.