ToekomsVenster: Die onstuimige God

(Foto: Mike Arney/Unsplash.)

Miga 2:3 – Daarom, so sê die Here: Ek beplan ‘n ramp teen hierdie mense, hulle sal dit nie kan ontwyk nie. Hulle sal nie meer regop kan loop nie, want dit sal ‘n tyd van swaarkry wees.

Miga maak geen geheim van hoe God oor die goddeloosheid van die wêreld, vernaam die van sy volk, dink en voel nie.

Somtyds kyk ʼn mens na die wêreld en wonder of Hy die onreg maar toelaat, of dit Hom hoegenaamd raak en of Hy ook daaroor ontsteld raak. Dit wil mos somtyds voorkom asof die onreg toeneem met die allerverskriklikste dinge wat mense aan mense doen.

Ons is geneig om die vinger na ander te wys maar ons staan self naak voor die volmaakte Koning van die konings.

Ek hoor verhale van doodgeowne mense, ons mense, en hoe hulle mekaar hanteer. Sosiale media is ʼn skitterende bewys daarvan. Ons sukkel nie om ons afkeer te verwoord wanneer ons nie hou van wat iemand anders sê nie. In sommige gevalle gaan die agressie oor tot laakbare dade.

Dit is so hartseer en so anders as die voorbeeld wat Jesus stel.

Miga 3:4 Wanneer hulle tot die Here roep, sal Hy hulle nie antwoord nie. Dan sal Hy Hom nie aan hulle openbaar nie, want hulle het baie verkeerd gehandel.

Gelukkig is dit nie die enigdste verhaal nie. Daar is merkwaardige verhale van omgee, medemenslikheid, deernis en betrokkenheid. Veral gedurend hierdie Covid-19-pandemie het ʼn mens van die onselfsugtige optrede van so baie kinders van die Here bewus geword.

Tog neem dit die skaduwee oor ons kollektiewe bestaan nie weg nie.

Ons sal moet fyn luister en ernstig raak oor God se manier van dinge doen.

Israel is ʼn bewys daarvan dat God strepe trek in die sand. Hy besluit tot waar en nie verdere nie. Die onsteltenis van God word in die aangehaalde verse bevestig. God is nie ons speelmaat nie.

Lees weer deur Miga.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.