ToekomsVenster: Die onstuimige wêreld

(Foto: Silas Baisch/Unsplash.)

Miga 1:2-5 – Luister, alle volke! Gee aandag, aarde met al jou bewoners! Die Here my God wil teen julle getuig, die Here wil uit sy heilige tempel getuig. Die Here kom uit sy woonplek uit, Hy kom af, Hy kom oor die hoë plekke van die aarde. Berge smelt weg onder Hom, laagtes skeur oop. Soos was in vuur smelt, so smelt die berge, hulle loop teen die hellings af soos water. Dit alles gebeur oor die sonde van Jakob, oor die oortredings van die volk Israel. Wat is die sonde van Jakob? Samaria! Wat is Juda se afgodshoogte? Jerusalem!

Miga is ʼn profeet wat van Moreset, ʼn gemeenskap digby Jerusalem kom. Hy praat namens God oor die sonde in die lewe van sy volk. Die Noordryk (Samaria) en Suidryk (Jerusalem) het die pad ver byster geraak.

Polities is dit ʼn baie traumatiese tyd. Die Assiriërs as wêreldmag verower so ver as hulle gaan. Samaria is volgende op die lys.

Die koning van die Noordryk span kragte saam met die koning van Damaskus om die Assiriese aanslag af te weer. Hulle wil die Suidryk daarby betrek maar die koning wil niks weet nie.

Broer veg teen broer.

Die Suidryk sluit ʼn bondgenootskap met die einste Assiriërs wat die Noordryk verower en die mense wegvoer. Die Suidryk is nou lojaliteit aan die Assiriërs skuldig.

Die agtergrond van dit alles is ʼn volk, die volk van die Here wat veragter het in die genade. Die dinge wat genoem word laat ʼn mens se hare rys. Dit wil voorkom asof daar nie ʼn samelewingsverband is wat nie geïnfekteer is nie.

Afgodery en prostitusie is aan die orde van die dag. Die minderes in die samelewing word uitgebuit terwille van die selfsugtige magsbeheptheid van die leiers. Sagtheid en deernis het plek gemaak vir ʼn onverskrokke selfsug.

Dis skandelik, skreiend en hartseer maar dit herinner aan vandag. Die onstellende voorkoms van onreg skree ten hemel. Mens verwonder jou aan die vindingrykheid van bedrieërs. Hulle ontsien niks en niemand in hul strewe om in te palm nie.

Het ons iets van God se heiligheid iewers langs die pad verloor? Het ons gewoond geraak aan genade?

Môre gesels ons verder. Intussen vra die Heilige Gees om ons as die kerk van Jesus nougeset gehoorsaam te maak.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here help ons om ons ore oop te maak te hoor wat die Gees ons wil leer in Jesus naam

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.