ToekomsVenster: Die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte

liefde

Foto: Personalityhacker.com

Lees Matt. 15:1-9, vgl ook Markus 7

Die Fariseërs en sommige skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, kom toe by Jesus. Hulle het gesien party van sy dissipels eet hulle kos met onrein hande, dit is met hande wat nie gewas is nie.

Die Fariseërs, en tewens die Jode oor die algemeen, eet immers nie as hulle nie eers hulle hande behoorlik gewas het nie. So hou hulle hulle aan die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte. En wanneer hulle van die dorp af kom, eet hulle nie as hulle nie eers gewas het nie. Daar is ook nog baie ander oorgelewerde gebruike waaraan hulle hulle hou soos hoe om koppies, bekers, bakke en stoele te was.

Die Fariseërs en die skrifgeleerdes vra Hom toe: “Waarom handel u dissipels nie volgens die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte nie en eet hulle met onrein hande?”

Hy antwoord hulle: “Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom. Julle is skynheiliges, soos daar geskrywe staan:
“Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie. Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas.”

Hy het verder vir hulle gesê: “Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuiwe en julle oorgelewerde gebruike in stand te hou. Moses het gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’ Maar julle sê: ‘Iemand kan vir sy pa of sy ma sê: Enige gawe wat u van my sou kon kry, is korban,’ dit wil sê: ʼn offergawe vir God. En so laat julle hom toe om hoegenaamd niks vir sy pa of sy ma te doen nie. So ontneem julle die woord van God sy gesag deur julle oorgelewerde gebruike wat julle op julle beurt weer oorgelewer het. Daar is ook nog baie ander sulke dinge wat julle doen.”

Markus wemel met insidente wat die skyngodsdienstigheid van die geestelikes van Jesus se dag ten toon stel. Nou gaan dit oor die oorgelewerde gebruike van die voorvaders. Uiteraard is daar niks mee fout om jou hande te was voor ete nie. Dit is nie net goeie higiëne nie, maar sterk aan te beveel. Dit sê iets van die respek wat ʼn mens vir voedsel as gawe uit die hand van God het en waardering vir die persoon wat dit met soveel liefde voorberei het.

Maar om dit die status van voorwaarde te gee om by God aanneemlik te wees is verregaande.

Stel jouself die scenario voor: Op die oordeelsdag word mense op grond van die feit dat hulle met ongewaste hande aan die etenstafel aangesit het tot ʼn ewigheid sonder God verdoem.

Ai tog, hoe lagwekkend kan mense wees.

Uiterlike godsdiens sonder enige krag of verhouding. Dis wanneer mense verveeld raak met Jesus dat hulle allerlei oppervlakkige praktyke begin navolg en dit vir ander voorskryf. Buite skoon, binne vol doodsbeendere, het Jesus gesê. Boonop verhoed sulke oppervlakkige optrede dat ander die vreugde van kindskap van God smaak. Hulle tas in die donker rond op soek na God terwyl hulle die voorskrifte van geestelikes volg, maar leer Jesus nooit persoonlik ken nie.

Stel jouself voor Jesus sê op die finale dag:
– Jammer, jy is nie groot (of klein) gedoop nie, desnoods glad nie gedoop nie.
– Jammer, jy het nie in die wegraping geglo nie.
– Jammer, een van jou voorvaders was ʼn Vrymesselaar.
– Jammer, jy het nie in tale gepraat nie (sonder om die belang daarvan te ontken)
– Jammer, jy het nie tot die aangewese kultuurgroep behoort nie.

En so kan ʼn mens aangaan.

Hoe verspot.

Raak tog weer halsoorkop verlief op Jesus!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Fariseeragtigheid kan groot skade aan die koninkryk van Jesus veroorsaak. Tradisies , etiket en gebruike het hulle tyd en plek, maar dan baie belangrik in ondergeskiktheid aan die beginsels van GOD se Woord. Versekerd is die was van hande voor ete aan te bevel, dis goeie higiene en belangrik vir liggaamlikke gesondheid. Die Fariseers se probleem was , dit het om die blote gebruik gegaan en nie gesondheid nie en om menslikke gebruike gelyk te stel aan die gebooie van GOD.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.