ToekomsVenster: Die paasmaaltyd word voorberei

paasfees-danabaai-strand-deur-juanita-badenhorst-03

Danabaai se strand. Foto: Juanita Badenhorst.

Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood, die dag waarop die Jode altyd die paaslammers geslag het, vra Jesus se dissipels vir Hom: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?” Hy stuur toe twee van sy dissipels en sê vir hulle: “Gaan na die stad toe. Daar sal ‘n man wat ‘n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom en waar hy ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: ‘Ons Leermeester vra: Waar is my kamer waar Ek die paasmaaltyd saam met my dissipels kan eet?’ Hy sal julle dan ‘n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle vir ons die paasmaaltyd voorberei.” Die dissipels het toe gegaan en in die stad gekom en alles gekry soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die paasmaaltyd voorberei. – Markus 14:12-16

Die paasmaaltyd het herinner aan die verlossing uit Egipte en is getrou deur Jode gevier. Daar was ʼn hele ritueel aan verbonde en die gesin het die hoofrol gespeel. Die hele verhaal is oor en oor vertel terwyl harte dankbaar aan die elemente van die Paasmaaltyd deel gehad het. Die ongesuurde brood, die bitter kruie, die wyn, die lam. Die suurdeeg is verwyder omdat dit ʼn simbool van sonde was. Die maaltyd het herinner aan die haas waarmee die Israeliete daardie nag waarin die eersgeborenes gesterf het uit Egipte vertrek het. Dis jare na daardie gebeure maar die verhaal leef steeds in die harte van God se kinders.

Die lam het ook die verwagting van die Jesaja Lam lewendig gehou. (Jes.58)

Hy het nie voorkoms gehad dat mense van Hom sou hou nie. Ander het in ongeloof hul gesig van Hom weggedraai. Hy wat stil voor sy skeerders is en uiteindelik na die slagpale begelei word. (Jes.58)

Die Paasfees het op die Lam gewys. Jesus is daardie Lam.

Die Paasfees wat Jesus saam met sy dissipels geëet het moes besonders gewees het. Aanvanklik het die dissipels min verstaan van God se plan. Nou is dit letterlik die vooraand van Jesus se offer. Hy, die eersgeborene, word nie gespaar nie. Die engel van die dood gaan nie by Hom verby nie. Die ongeregtigheid van die volk word op Hom betrek. Hy lê sy lewe af vir die wat dit nooit kan verdien nie.

Hy breek die brood en weet dat sy liggaam aanstons gebreek gaan word. Hy skink die beker en weet dat sy bloed gaan vloei. Hy bind die handdoek om en was sy dissipels se voete en weet dat Hy die groot liefdesdaad netnou maar gaan voltrek.

Een van die wat sy hand in die skottel steek is Judas. Hy pleit onskuldig wanneer Jesus sy dissipels van die verraad inlig. Op ʼn punt verlaat hy die heilige vergadering haastig om die bose plan van sy hart te voltrek.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.