ToekomsVenster: Die pad byster raak

gebed

(Argieffoto)

“… en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.” – 2 Kronieke 7:14

Met verwysing na die teksgedeelte dink ek aan vele geleenthede, wat in die Bybel aangeteken is, waar God se volk die pad ver byster geraak het. Trouens, dit is dikwels die verhaal van die Ou Testament.

Mense vergeet so gou. Ons vergeet waar God ons kom haal het en wat dit Hom gekos het, maar Hy gaan ons nie laat vergeet nie. Al moet omstandighede ons daartoe dwing om voorraadopname te doen, sorg Hy daarvoor. Hosea sê die rede is dat God se liefde vir ons so groot is dat Hy ons nie aan ons eie lot wil oorlaat nie.

Angus Buchan tree eersdaags by ʼn gebedsaamtrek in Krugersdorp op. Mense is opgewonde daaroor en dit hoort so. Dit is nie elke prediker wat honderde mense bymekaar kan maak vir ʼn gebedsbyeenkoms nie. Toegegee, nie elke prediker word daarvoor geroep nie, maar kom ons gee erkenning waar dit toekom. Angus leef sy getuienis en geloof onbeskaamd uit.

Mense van heinde en ver sal opdaag. Gepantser met sambrele en piekniekmandjies, sal hulle vroegoggend reeds opdaag.

Luidsprekers sal die boodskap van God se verlossing in Christus Jesus uitbasuin. Die dinge wat ons ontstel en ons persoonlike lewe en naasbestaan in Suid-Afrika negatief beïnvloed, sal aangespreek word. Dit hoort so. Ons moet eerlik en reguit met mekaar praat.

Die teks sê: “God se volk moet hulle bekeer van hul verkeerde weë.”

Ons bely met groot fanfare dat Suid-Afrika ʼn Christelike land is. As dit waar is, het iets skeefgeloop.

Vandag sterf nagenoeg 71 mense gewelddadig. Tientalle vroue word verkrag en selfs doodgemaak.

Kinders word misbruik en dit is maar net om ʼn paar sake te noem.

Is dit tekens van die tye? Miskien is dit ʼn aanduiding van die laaste dae?

Moet ons so voortleef of is daar ʼn moontlikheid van herstel?

Die teks sê: “as God se kinders bekeer”.

Wat het die teks vir jou te sê?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here ons bid vir ons kinders vir ons land en al sy mense. Dankie aan Angus wat onverskrokke voortgaan seen hom…Amen

Andries ·

Die ‘Christendom’ is soos ‘n krismisboom – kunsmatig versier, maar afgesny van sy wortel. Terugkeer na die oorspronklike WAARHEID van die WOORD sluit die TORAH in – sien Matt 5:17 – 19.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.