ToekomsVenster: Die politici krap alles deurmekaar

Foto: Juanita Badenhorst.

Lees: 1 Timoteus 2:1-4:

“1 Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, 2 vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. 3 So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”

Volgens kenners is een van die mees dringende probleme in ons land die wyse waarop politici optree, asook die manier waarop politieke debatte gevoer word. ’n Mens word skaam as jy luister hoe een politieke leier na die ander optree, hoe skares opgesweep word, hoe politieke debatte in die parlement gevoer word.

Vandag moet ons met groot erns vir ons politieke leiers bid, veral vir dié wat oortuigde kinders van die Here is. Hulle het ons gebede baie nodig!

Gebed:

Vader, ons kom met gebede, smeking en danksegging voor U troon om vir ons politieke leiers en vir almal wat gesagsposisies beklee te bid, sodat ons in vrede mag leef en volkome toegewy kan wees aan U. Dit is wat U, ons God en Verlosser, behaag. U wil hê dat alle mense gered sal word en tot kennis van die waarheid kom. Mag ons politici in geregtigheid optree sodat ons bestendigheid in ons land kan hê.

Leefwyse:

Stel ʼn lys van name op van politieke leiers vir wie jy onderneem om gereeld te bid.

Om oor na te dink:

Dit word dikwels gesê dat ’n land die politieke leiers kry wat hy verdien. Is dit waar van ons land? Hoe kan die gewone man op straat ʼn betekenisvolle rol speel in die politiek van die land? Watter rol het die kerke in Suid-Afrika te speel?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Watter rol het kerke in Suid Afrika te speel?

Indien ons dit Bybels beoordeel soos dit veronderstel om te wees, kan ons net gaan kyk na die tyd van die konings in Israel. Die profete was God se stem en het die volk en koningshuise oor die algemeen met n roede geslaan, aangesien die slegte oorheers het.Hul was dus nie baie gewilde skepsels nie aangesien hul die waarheid gepraat het. In die openbaar in die teenwoordigheid van die hele volk. Hul is menigmaal gedood vanweë hul boodskap, soos Jesus tereg opmerk tydens sy aardse bestaan.

Die kerk vandag is nie eens n skaduwee van die godsmanne van ouds nie. Eerstens is daar seker goed 400 verskillende denominasies wat hulself as Christelik beskou en hoog en laag sweer hul verkondig die waarheid.

Sondag vir Sondag word die “kerk” sê vergrype in die media blootgelê. Die kerk se profetiese stem is doodstil vanweë wêreld gelykvormigheid.

Sou ons vinnig na die Nuwe Testament gaan, sien ons die vurigheid van die dissipels en dat 11 van die 12 n martelaarsdood gesterf het. Vandag egter, is kerk verweef aan gemaksug met leraars wat die pensioenvrede bewaar. Soos voorspel, preek hul wat die gemeente wil hoor. Motiveringstoesprake en “entertainment” is op die agenda. Alles tussen die veilige vier mure.

Dus, ja, ons kry die regering wat ons verdien en soos die Israeliete verstrooi is vanweë hul sonde, word ons tans verstrooi vanweë ons sonde. Nie eens Oom Angus se miljoen het effek gehad nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.