ToekomsVenster: Die profetiese red; die tempel sal afgebreek word

israel

Foto: Robert Bye/Unsplash.com

Toe Jesus van die tempel af weggaan, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, kyk watter geweldige klippe en watter geweldige geboue!” Jesus sê vir hom: “Sien jy hierdie groot geboue? Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.” – Markus 13:1-2

Die uitlating van Jesus moes die dissipels onkant gevang het. Dis dieselfde uitlating wat later teen Jesus gebruik is.

Die dissipels is duidelik beïndruk met die tempel se geboue en terrein. Dat dit indrukwekkend was leer die geskiedenis ons. Die tempel het die groot God van Israel gekomplimenteer en was volgens die voorskrifte wat Hy daarvoor gegee het, gebou.

Dieselfde tempel sou in 70 nC tot op die fondasie afgebreek word omdat God se volk in ʼn veruiterlikte godsdiens verval het. Buite mooi maar binne stukkend en vuil.

Jesus betrek die tempel op Homself. Hy is die ware heiligdom. Hy is die aardse en vleeslike tempel. Hy verteenwoordig die verskillende fasette van die tempel. Hy is die offer. Hy is die lig en die brood. Hy is die vervulling van die wet. Hy is die allerheiligste. Hy is tempel in die vlees.

Dié tempel sal vernietig word. Afgetakel, verniel, stukkend en verneder. Die tempel sal deur mense met vuil hande ontheilig word. Aanvanklik sal hulle nie verstaan wat gebeur het nie. Hulle sal hierdie heilsdaad teen die tempel gebruik en misbruik. Hulle sal die tempel beledig en mishandel.

Maar die tempel sal herstel word wanneer die Seun van die mens die dood troef en daaruit opstaan. Dan word die heiligdom herstel en vervul dit sy ware funksie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.