ToekomsVenster: Die profetiese rede; die groot verdrukking

kruis-gebed-berg-mis

Foto: Jacob Meyer/Unsplash.com

“En wanneer julle die ding wat ‘n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, sien staan op die plek waar hy nie moet wees nie — wie dit lees, moet dit goed begryp — dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug. Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om iets in sy huis te gryp nie; en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie.“Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het. Bid dat dit nie in die winter moet gebeur nie, want in daardie tyd sal daar so ‘n verdrukking wees soos daar van die begin af, vandat God die wêreld geskep het tot nou toe, nog nie was nie en ook nie sal wees nie. En as dit nie was dat die Here daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy daardie tyd ingekort. “As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, die uitverkorenes te mislei. Julle moet daarvoor op julle hoede wees. Ek het alles vir julle vooruit gesê.” – Markus 13:14-23

Die gedeelte verwys in die eerste plek na die verwoesting van die tempel in 70 NC onder Antiochus Epifanus. Die tempel is ontheilig en vernietig. Dit was ʼn uiters ontstellende tyd en die lyding van God se volk was ongeëwenaar. Daar is egter iets soos profetiese perspektief.

Profesie se aard is soos bergtop ervarings. Jy klim tot bo en dink dat jy nou alles sien en verstaan. In die verte en op die horison sien jy egter ʼn volgende stel berge wat die voortdurende ontrafeling en verdere diepere meerdere vervulling van die profesie aankondig. Die gedeelte slaan dus ook op die afloop van die wêreld se geskiedenis.

Die Bybel leer ons in Openbaring dat moeilike tye vir die kerk voorlê. Die Waarheid word reeds nie waardeer nie en die onverdraagsaamheid jeens die Waarheid sal toeneem. Daar is duisende Christene wat terwille van hul getuienis gedood word. Miljoene ervaar vervolging en diskriminasie op verskeie terreine van die lewe. Die onverdraagsaamheid sal toeneem namate die uurglas leegloop.

Die gelykenis van die saaier leer ons dat ʼn breukdeel van die saad vrug gedra het. Een deel het juis verlore gegaan vanweë die druk wat met geloof en die uitlewing daarvan gepaard gaan. Daarom maan die teks ons om nie moed te verloor nie maar end uit gelowig te volhard. Daar is soveel mense wat tans uitsak uit die geloof. Eens getroue en lojale gelowiges verander bykans oornag van oortuiging en hang alternatiewe inhoude aan of draai hul rug geheel en al op Christus. Die Bybel sê dis asof hulle Hom vir die tweede maak kruisig. Dis sonde teen die Heilige Gees om dit wat God doen te ontken, jou rug daarop te draai en of dit aan die bose toe te skryf.

Ons mag nie moedeloos word nie. Soos Petrus moed skep wanneer Jesus sê die duiwel het geleentheid gesoek om hom te sif maar Jesus het vir hom gebid. So weet ons dat die Seun van die mens vir ons intree, ook die Heilige Gees met versugtinge wat nie onder woorde gebring kan word nie.

Wie volhard tot die einde toe sal gered word.

1 Kor. 15:58 – Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.