ToekomsVenster: Die profetiese rede; die voorbeeld van die vyeboom

vyeboom-02

Foto: Dimitrisvetsikas1969/Pixabay.com

“Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke al sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat die tyd naby is, voor die deur. Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.” – Markus 13:28-31

Weereens die verwysing na die vernietiging van die tempel as eerste verwysing maar uiteraard veel meer as dit. Die Here sê ons moet die tekens raaksien en interpreteer. Die wêreld kan tog nie selfbehep bly voortwoed sonder om te dink dat daar ʼn dag van afrekening sal kom nie. Dit sal wees soos in die dae van Noag sê die Bybel. (Matt.24:37-39)

God se belewing van tyd is heeltemal anders as ons s’n. Ons verwysingsraamwerk is nie veel meer as ʼn honderd jaar nie. In buitegewone gevalle word sommige mense honderd jaar en ouer. Die meeste mense kom nie daar naby nie.

Vir Hom is ʼn duisend jaar soos een dag. Dis soos ʼn oogwink, dis gou verby.

Vir ons voel iets soos ʼn ewigheid. Vir God is dit soos gister of die dag van te vore. Tog sê die Bybel dat ons ʼn sensitiwiteit moet ontwikkel sodat ons in die lig van dit wat geskrywe staan die tyd kan interpreteer. Issaskar het juis die vermoë gehad om die tyd te interpreteer. (1 Kron.12)

Ek is somtyds bekommerd daaroor dat die kerk veral nie in staat is om die tydsgewrig en uitdagings wat daaraan verbonde is behore te interpreteer nie. Vir so baie is dit “business as usual”. Daar is niks “usual” of gewoons aan ons wêreld nie. Ons wêreld beleef ongekende turbulensie.

Dis soos ʼn spiraalgang na benede in snelle vaart na die afloop van alle dinge. Tog gaan mense oënskynlik onverpoosd voort met hul dagtake en dinge sonder om vir ʼn oomblik tot stilstand te kom en te vra wat aan die gebeur is.

Iewers sê die Bybel juis dat ons nou nader is aan die verlossing as toe ons tot geloof gekom het. ʼn Ander teks maan ons om wakker te word en uit ons slaap op te staan.

Is die kerk nie ’n soort slapende reus nie, salig onbewus van wat rondom hom gebeur. Ek waag dit om te sê dat as mense in Suid-Afrika die skrif teen die muur ernstig sou opneem, sal hulle God meer as ooit tevore soek.

Helaas voel dit somtyds of dieselfde klompie entoesiaste die kerk “aan die gang hou”. Maar vergewe my, ek wil nie pessimisties wees nie, maar gelowig.

Hy is in staat om meer te doen as wat ons dink en maar Hy doen dit deur die toegewyde en gewillige hande van sy kinders.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.