ToekomsVenster: Die profetiese rede; rampe en vervolging

israel-stofpad-groen-bome

Foto: Robert Bye/Unsplash.com

Jesus het op die Olyfberg gaan sit, regoor die tempel. Toe hulle alleen was, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas vir Hom: “Sê vir ons, wanneer sal dit gebeur en wat sal die teken wees van wanneer dit alles voleindig gaan word?” Jesus sê toe vir hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Daar sal baie onder my Naam kom en sê: ‘Dit is ek!’ en hulle sal baie mense mislei. “En wanneer julle die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik wees nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander. Daar sal aardbewings op baie plekke voorkom. Daar sal hongersnode wees. Hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd. “En julle moet teen julleself op julle hoede wees. Mense sal julle aan die geregshowe oorlewer; in die sinagoges sal julle geslaan word, en voor goewerneurs en konings sal julle oor My teregstaan. Dit sal ‘n getuienis voor hulle wees. En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word. Wanneer hulle julle gryp om julle oor te lewer, moet julle julle nie vooruit bekommer oor wat julle sal sê nie, maar julle moet praat soos dit op daardie oomblik aan julle gegee sal word, want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees. Die een broer sal die ander oorlewer om doodgemaak te word, en selfs ‘n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. Ja, julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.” – Markus 13:3-13

Die profetiese rede is enersyds ontstellende leesstof. Die omstandighede wat sal aanleiding gee tot die wederkoms van ons Here is spanningsvol en onaangenaam. Opstand, oorlog, verraad, hongersnood en aardbewings is nie goed wat ʼn mens jouself of ander toewens nie. Tog is dit die noodwendige voorspel tot die finale afloop van alle dinge.

Die teks sê hierdie dinge is die begin van die nuwe tyd. Die genoemde fenomene is inderdaad sedert die begin van die mensheid met ons. Dat dit egter toeneem in intensiteit is nie te betwyfel nie. `ʼn Mens kan redeneer dat die media ons baie meer bewus maak van die voorkoms van sulke gebeure. Dit is inderdaad so. Ek wonder egter of die wêreld sedert sy ontstaan al ooit so onstuimig vertoon het soos nou.

Dis somtyds vir my asof mense totaal koers verloor het. Onder die verneer van die wêreldse vertonerigheid is dit stukkend en gebroke. Daar is soveel mense wat intens lyding ervaar. Miljoene der miljoen mense gaan gebuk onder hongersnood, oorloë en die vernietiging van infrastruktuur ens. Die verwoesting in Sirië is iets om te aanskou. Totale gemeenskappe word met die grond gelyk gevee. Geskiedenis word met ʼn paar ontploffings tot rommel gereduseer. Kinders, jongmense, volwassenes mans en vroue en bejaardes moet vlug, bondeltjie op die rug op soek na veiligheid. Baie sal nooit ooit weer terugkeer na die plek wat hul eens huis genoem het nie. Daar is letterlik niks om na terug te keer nie.

God stel nie die vervulling van sy beloftes uit nie maar wil nie dat enige mense verlore gaan nie. Dis geduld in aksie.
Dan weer is die gevaar dat ʼn mens vrede maak met die gebrokenheid en jou nie meer beywer vir ʼn beter en gesonder wêreld nie. Immers die Bybel sê dit sal so gaan namate die einde nader kom. Juis omdat God se kalender heeltemal anders werk as ons sin moet ons liefs datums en gebeure in sy hande los en voort gaan met die taak wat Hy ons opgedra het. Ons gebed lui “Laat U koninkryk kom”.

Luther sou gesê het, as ek weet dat Jesus môre kom plant ek vandag ʼn boom.

Ons mag nie moedeloos word nie, nog minder lui en traak-my-nie-agtig. God se wêreld word algaande vernuwe totdat sy Koninkryk in volheid deurbreek.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Gee oor.
Vertrou op Hom.
Ken hom in alles wat jy doen…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.