ToekomsVenster: Die prys wat Hy namens jou betaal het


arms-omhoog-gebed

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ʼn duif na Hom toe sien neerdaal. Daar was ook ʼn stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” – Markus 1:9-11

Volgens die evangelie is Johannes stom van verbasing dat die Here, sy Here na hom kom om gedoop te word. Doop is vir sondaars. Dis die afwas van sonde en ongeregtigheid. Dis Johannes wat deur Jesus gedoop moet word. Jesus dring egter daarop aan. So word die geregtigheid vervul en aan God se plan van verlossing uitdrukking gegee. Wat in die water spreekwoordelik agterbly, word deur Jesus opgeneem. Dis ʼn metafoor vir die prys wat Hy later sou betaal. Terwyl sondaarmense in die doop die afwas van sonde beleef, neem Jesus die sonde van die wêreld op Hom deur die doopdaad. Verstaan jy jou doop? Dis ʼn identifikasie met Jesus en die prys wat Hy namens jou betaal het.

Dis ʼn sterk woord, die hemel het “oopgeskeur”. Dis asof die oomblik swanger is met die implikasie van hierdie seremonie. Dit herinner aan die swaar gordyn wat later by die konkretisering van hierdie seremoniële daad sou plaasvind. Dis die hart van God wat skeur. Net maar dat God hierdie keer met goedkeuring na sy Seun kyk. Die volgende keer as die hemel skeur, is dit omdat selfs God vir ʼn oomblik die vernedering van sy Seun nie kon aanskou nie.

Iewers sê die Woord – skeur julle harte en nie julle klere nie. Het jou hart al geskeur oor die prys wat jou ongeregtigheid die Seun gekos het?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne Brown ·

Dankie o Here vir die prys wat net U Kon betaal vir my lewe . Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.