ToekomsVenster: Die reis na binne

(Foto: Paul Gilmore/Unsplash)

Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ – Matt. 22:37-39

Ons gesels oor die twee aspekte van menswees, van bewustelik leef en van teenwoordig wees. Van kleintyd af veg ʼn mens om oorlewing. Die wêreld is somtyds ongenaakbaar en het bitter min empatie met jou. Dinge gebeur en selfs voordat jy dit kan verwoord of inhoud gee, leer jy hoe jy moet optree ten einde veilig te wees.

Dit mag beteken dat jy baklei om jouself te laat hoor. Dit mag beteken dat jy in selfbejammering verval. Ander onttrek in ʼn eie wonderwêreld waar niks en niemand hulle kan steur nie.

Ons word nie met die kapasiteit om onsself op verantwoordelike wyse te beskerm en te handhaaf gebore nie. Daardie kapasiteit word met tyd ontwikkel maar eers as jy ontwaak, wakker word en begin om jou motiewe en optrede krities te ontleed.

Ons praat van die reis “na binne”, die reis na jou ongeskonde self – soos God dit bedoel het.

Daardie “kern-menswees” is omhul met lae beskermings- en oorlewingsmeganismes.

Dit is net wanneer jy met jouself, dalk met die hulp van ʼn begeleier op weg gaan ten einde daardie lae een vir een af te skil, dat jy nader beweeg aan wie jy in jou wese is.

Dit is ʼn ongemaklike proses en min mense maak daarmee moeite. By uitstek dink mense nie vir ʼn oomblik daaroor na nie. Hulle is aan die slaap en tree meganies op.

Iemand het gesê, mense is masjiene. Ons word aan en afgeskakel. Ons werk volgens ʼn program. Ons bevraagteken dit nooit nie. Dis hoe dit van kleintyd af is.

Jy kan sommer die vraag hoor: was jy van kleintyd af so? Inderdaad, van kleintyd af.

Nou is jy ʼn volwassene maar tree steeds op soos toe jy weerloos teen die wêreld was, geen betekenisvolle verwysingsraamwerk gehad het nie, geleer het die beste manier van optrede is om al wat mens is op ʼn  afstand hou.

Die vraag hoe jy sou wees, daaruit sal sien, wie jy sonder al die verdedigingsmeganismes is, kom nie by jou op nie.

Ander wil oornag van die bagasie ontslae raak. Dit is wensdenkery.

Dit het jou dertig, veertig en vyftig jaar geneem om te word wat jy is, dit gaan tyd neem om te ontdek wie jy werklik, onder die bedekking, agter die masker is.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.