ToekomsVenster: Die reis na binne

(Foto: Quino Al/Unsplash)

Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig. – Matteus 11:28-30

Toe ek grootgeword het, was daar van net een vorm van “intelligensie” ter sprake, intellektuele intelligensie of soos daar na verwys is, jou “IK”.

Jy het nooit jou IK geweet nie en dit het altyd soos ’n swaard oor jou kop gehang. Jy wonder of jy slim genoeg is om die akademie baas te raak.

Hoe IK in besluite wat jou lewe raak inwerk, sal jy nie weet nie want niemand het ooit daaroor gepraat nie. Net juffrou en meneer het geweet.

Verstandelike vermoë was alles. Dit het bepaal hoe ver jy in die lewe gaan kom. Indien jy beter doen as die verwagting is almal verbaas. Daar is uitsonderings op die reël, is seker gesê.

In die proses van rasionaliteit en feitelikheid het iets belangriks verlore gegaan.

Dit is eers baie later in my lewe dat ek van “emosionele” naas ander vorms van intelligensie gehoor het.

Niemand het ooit aandag gegee of gedink dit is belangrik dat ek vir die lewe en sy eise voorberei moet word nie. Dit het soos ’n ramp in my lewe uitgespeel en baie spanning, hartseer en sukkel op die toneel gebring.

Immers, waar moes ek dan leer dat die lewe somtyds ongenaakbaar onvriendelik is, dat waardering en bevestiging skaars is, dat uithaal en wys jou voorland is, dat jy gemeet word aan wat op die toets of eksamen papier geskrywe staan.

Met die jare het ek bewus geword van die binnekant, my menswees, my innerlike.

Dit het daadwerklike optrede gekos om my op die weg van genesing te plaas. In hierdie lewe sal dit seker nooit volledig wees nie. Ons is almal stukkend. Sommige onteken hul stukkend wees, ander projekteer dit weer, terwyl die aangewese ding is om jou seer in die oë te kyk, die boodskappe wat dit dra raak te hoor en stukkie vir stukkie, dag vir dag en oomblik vir oomblik die weg van innerlike genesing te begin stap.

Ons is almal op daardie trajek, sonder uitsondering.

Wat van jou seer? Het jy al met ʼn vriend, berader, sielkundige, dominee of pastoor gesels? Hoe ernstig is jy oor heel word. Net jy kan dit antwoord.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JM ·

Ek heleef al vir 11+ jaar intense emosionele pyn as gevolg van ‘n kind wat my verwerp. Daar gaan nie ‘n dag verby dat ek nie vir haar bid en voor die Here huil nie. Sy tyd is nie ons tyd nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.