ToekomsVenster: Die ryk jongman

denker-man-op-berg

Foto: Cristofer Jeschke/Unsplash.com

Net toe Jesus uit die huis uitkom om verder te gaan, kom daar iemand aangehardloop. Hy val toe voor Hom op sy knieë en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen. Jy ken die gebooie: ‘Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuienis aflê nie,’ jy mag nie iemand veronreg nie, eer jou vader en jou moeder.” “Meneer,” sê hy vir Hom, “dit alles het ek van my kinderdae af nagekom.” Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. – Markus 10:17-22

Die vraag, wat moet ek doen om gered te word, is van lewensbelang.

Het jy al die vraag gevra en ʼn antwoord daarop gekry?

Die jongman het soveel om aan te bied. Hy is energiek, het potensiaal en die jeug is aan sy kant. Boonop is hy skatryk. Hoe hy aan sy skatte gekom het is nie seker nie. Miskien het hy die rykdom geërf of miskien het hy soos so baie jongmense vandag vroeg-vroeg sy talente gebruik. Dis opmerklik hoeveel innovasie en kreatiwiteit veral rondom die inligtingstegnologie in die hande van jongmense beslag kry. Dis verder opmerklik dat hierdie rykdom die jongman nie heeltemal bevredig nie. Derhalwe die vraag: Wat moet ek doen om gered te word?

Daar is te midde van en ten spyte van die luuksheid waarmee sy bestaan omhul word, ʼn gemis. Die aarde bevredig nie. Mot en roes verniel uiteindelik. Die oumense het gesê jy vat dit nie saam nie. Uiteindelik staan ons alleen voor God en sy majesteit.

Jesus kry die jongman sommer dadelik lief. Hy het waarskynlik ʼn warm persoonlikheid gehad en het soveel om aan te bied. Jesus kom nie in die versoeking om die boodskap te kompromitteer nie. Jesus sê nie “vir jou sal ek ʼn uitsondering maak nie”.

Die jongman se finansiële bydrae immers kan baie beteken vir die gemeente en help om die boeke te laat klop. Hy kan boonop heelwat ander jongmense na die erediens lok.

Dit gaan oor prioriteit. Dit gaan oor wie en wat die belangrikste in jou lewe is. Jesus sal altyd die dinge aanspreek wat sy posisie van absolute voorrang en heerskappy in jou lewe bedreig. In die jongman se lewe was dit aardse rykdom.

Net een ding kom jy kort, sê Jesus. In sy lewe was dit rykdom wat die kortsluiting veroorsaak het, al het hy daarin geslaag om die ander gebooie te onderhou.

Daar is niks verkeerd met rykdom en besit nie. Dit is juis wat die dissipels sommer moedeloos stem. Wie kan dan gered word? Materiële voorspoed is dan juis as die seën en goedkeuring van die Here beleef.

Dis egter die plek wat daardie rykdom in jou lewe beklee wat saak maak. God alleen is ware rykdom.

Waarna sou Jesus verwys as Hy vir jou sou sê: “net een ding kom jy kort, gaan..?”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

christa ·

Baie Dankie Vir die mooi Bood skap En So waar Ons Vat Niks saam , Maar As jy JESUS ken IS JY DIE RYKSTE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.