ToekomsVenster: Die ryke verskeidenheid van eenheid


gemeenskappe

Argieffoto.

Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal. – Kol 3:9-11

Die huisgesin van God. Dis wat Paulus ons noem. As ek Sondae na die gemeente kyk, word ek soms van hierdie wonderwerk bewus. Daar sit en staan my broers en susters reg voor my. Hulle is bloedfamilie, want ons is aan mekaar verbind deur die bloed van Christus. Ons kom uit verskillende huise, het verskillende agtergronde en praat soms selfs verskillende tale. Tog het ons een Pa. Ons is God se familie!

Kinders lyk nie dieselfde nie. Hulle het nie dieselfde persoonlikhede nie. Huisgesinne is vol verskeidenheid. Soms kom broers en susters vir ’n tydjie nie met mekaar oor die weg nie. Wanneer hulle volwasse word, begin hulle mekaar meer en meer waardeer.

Paulus beskryf die Here se mense op verskillende plekke in sy briewe. Daar was Jode of Grieke, slawe en vry mense, mans of vroue, beskaafde mense en onbeskaafdes, besnyde mense en mense wat nie besny is nie, mense met verskillende tale (Gal 3:28; Kol 3:11; 1 Kor 12:13). Verskille in ras, volk, taal, geslag, sosiale status en godsdienstige agtergrond is deel van die kerk van Christus.

Hef ons verskille ons eenheid op? Nee, sê Paulus. In Christus Jesus maak hierdie verskille nie meer ’n verskil nie. Ons is een liggaam (Gal 3:28; 1 Kor 12:13).

Die belangrikste insig wat Paulus ons gee lê op drie vlakke. Eerstens: geloof in Christus is al vereiste om aan die kerk van Christus te behoort. Tweedens verryk die verskeidenheid die eenheid, want ’n liggaam het verskillende dele. Derdens, as jy nuut gemaak is en elke dag meer soos Christus word, sal jy insien dat hierdie verskille nie meer van belang is nie (Kol 3:11). Hier is Christus alles en in almal! Hy is al was saak maak. Hy is in almal – in mans, vroue, kinders, mense wat anders as ek lyk en is. Wat ’n wonderlike boodskap en werklikheid!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.