ToekomsVenster: Die skaapwagters is nie te gering nie


herder-wagter

Foto: Thegospelcoalition.org

LUKAS 2:8 – Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het.

Ons leef in ʼn magsbehepte en statusbehepte samelewing.

Om daarna te streef om betekenisvol te lewe, invloed te hê wat die wêreld ʼn beter plek maak, ensovoorts is uiteraard nie verkeerd nie. Daar rus ʼn roeping op elke mens se lewe en dit moet uitgeleef word. Die motivering is egter die eer van God en die welsyn van ons medemens.

Paulus waarsku teen die misbruik van die gawes vir eie belang en opgesmuktheid (1 Kor. 12).

Dis daar terwille van die Liggaam. Gawes maak ʼn mens nederig en nie hovaardig en beterweterig nie.

In die destyds bekende wêreld het skaapwagters onder die geringstes van die samelewing getel. Dink maar aan die situasie met Dawid. Nadat al die broers aan Samuel voorgestel is en hy geweet het dat dit nie een van hulle was wat as koning gesalf moes word nie, word skouerophalend en verskonend verwys na ʼn jong seun wat skape oppas.

I SAMUEL 16:11 – Verder het Samuel aan Ísai gevra: Is dit al die seuns? En hy sê: Die kleinste is nog oor, en kyk, hy pas skape op. Toe sê Samuel aan Ísai: Stuur en laat hom haal, want ons mag nie om die tafel gaan sit voordat hy hier kom nie.

Dat hy Goddelike potensiaal had, was nie eens deel van Isai sy pa se gedagte nie. Ook nie van die broers nie.

Hulle het almal kop en skouers uitgetroon bo almal.

Dawid was ʼn kunstenaar, temperamenteel, gelukkig met sy siter en die veld. Wat sou God tog vir hom in gedagte hê?

Ek wonder hoe het hy oor homself gedink?

Sou hy bewus wees van die belangrike byeenkoms wat tuis gehou word?

Die bekende profeet Samuel kom hulle vandag besoek.

Almal is daar, net hy nie.

Hy moet die skape versorg.

Dis nie aan Herodes wat die Here die koms van die Messiaskoning openbaar het nie. Ook nie die geestelikes van sy dag nie.

Dis aan eenvoudige skaapwagters.

Interessant dat Dawid juis in eenvoudige idioom skryf as hy na die geloofslewe verwys. “Die Here is my Herder. Hy dra my aan sy bors. Hy bring my by groen weivelde. Hy laat my rus by waterstrome. Hy salf my met die goeie.”

Wie is die skaapwagters in ons samelewing, die mense van wie ons nie veel verwag nie?

Die Here gaan ons beskaam.

Hy dink nie soos mense nie.

Here, tel my onder die skaapwagters.

Ek wil U lof besing.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.