ToekomsVenster: Die soldate bespot Jesus

hartseer-roos

Foto: Sharon McCutcheon/Unsplash.com

Die soldate vat Jesus toe in die binnehof van hulle hoofkwartier in en roep die hele afdeling bymekaar. Toe trek hulle Hom ‘n pers mantel aan en vleg ‘n doringkroon en sit dit vir Hom op. Daarna het hulle Hom begin begroet en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” Hulle het Hom herhaaldelik met ‘n stok oor die kop geslaan en op Hom gespoeg en hulle knieë gebuig asof hulle aan Hom eer wou bewys. Nadat hulle Hom klaar bespot het hulle die pers mantel uitgetrek en weer sy eie klere vir Hom aangetrek. Toe lei hulle Hom weg om Hom te kruisig. – Markus 15:16-20

Ek soek na bekering tussen die lyne maar soek tevergeefs, dat die mense en die geestelikes dalk net ten aanskoue van die verskriklikste vernedering tot insig kom, dat hulle onder mekaar redeneer en oorweeg dat hulle dalk tog verkeerd geoordeel het.

Die brutale geseling van Jesus word ontstellend eerlik en grafies uitgebeeld in Mel Gibson se Jesus of Nazareth. Mens wil dit nie sien nie. Die verontmensliking, vernedering en harteloosheid van dit alles.

Van so ʼn kruiseling moes ʼn voorbeeld gemaak word. Dit was ʼn afskrikmiddel dat ander mense hulself nie teen die Romeinse owerheid sou opruk nie. Jesus het nooit so iets gedoen nie. Trouens, Hy het selfs gesê betaal aan die keiser wat die keiser toekom en aan God wat God toekom.

Presies watter misdaad het Hy begaan dat van Hom ʼn voorbeeld gemaak moet word?

Hy word op bedenklike wyse kamma vereer. Persmantel soos ʼn koning s’n, doringkroon want ʼn koning dra tog ʼn kroon en stok in die hand want ʼn koning moet ʼn heerserstaf hê.

Eers gestroop en toe geklee, dan weer gestroop en vir die res van sy aardse reis ontklee.

Geskop, gespoeg, gespot, Jesus die Seun van God. Hoe regverdig ons, hoe verontskuldig ons die hardheid van harte hierdie offer ten spyt?

Gesang 133 – Is dit, is dit my Koning: kyk daar, aanskou die mens! Is dit, is dit Sy Kroning – wie het dit so gewens? Is dit Sy koningshulde: die riet, die kleed, die kroon? Boet Hy so vir my skulde, word so Gods seun vertoon.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.