ToekomsVenster: Die spiraal na Bo

(Foto: Reuben Teo/Unsplash)

“Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof — die verlossing van my aangesig en my God!” – Psalms 42:12 (AFR53)

Ek het nooit behoorlik leer swem nie en is altyd skrikkerig as ek gaan swem. Ek geniet die water maar bly altyd veilig. Ek kan myself help en sal seker die vlak kant kan bereik as ek my inspan, sou ek iewers in die noute verkeer.

Onder die water kan ek vir enkele hale vorder. Dan beur dit na bo. Dit is wonderlik om weer die vryheid van blou lug bokant my kop te ervaar. ʼn Gevoel van veiligheid en verligting oorweldig my.

Om van die spiraal van hopeloosheid na onder te ontsnap, moet jy eweneens na bo en vorentoe beur. Groot hale en diep asem terwyl jy al die bakens verbysteek wat jou juis op daardie plek van moedeloosheid laat beland het.

Jy word bewus daarvan hoe die las ligter word terwyl jy die ontstellende dinge in en rondom jou verbysteek. Dis ʼn keuse, bewustelik, doelgerig en gefokus, beur boontoe met alles wat jy het.

Wanneer jy snikkend na jou asem bokant die beginpunt van die spiraal vorder merk jy op dat daar ʼn kruis geplant is. Die kruis is boonop leeg en verteenwoordig ʼn monument van iets aangrypend wat gebeur het.

By die voetenent van die kruis vertoef jy terwyl jy bewend prewel dat die wêreld so oorweldigend is dat jy byna koers verloor. Iets betekenisvol gebeur in daardie plek van ontmoeting. Die kruis en alles wat dit verteenwoordig omhels jou. Jy word met moed en perspektief omgewe.

Hoop vloei jou te binne. Goed lyk heel anders as jy deur die kruis-gebeure daarna kyk.

Christene se reis neem hulle na plekke van ontwrigting, hartseer en teleurstelling. Dit gebeur in jou eie lewe en oral rondom jou. Nou durf jy die reis en roeping weer aan, maar dié keer vanuit die kruis.

Die betekenis en boodskap van die kruis dra, verkondig en verbeeld jy in elke konteks waarbinne jy jouself bevind. Ja dis erg, maar Goddank, Jesus het betaal en opgestaan.

Die ongemak hou nie vir altyd nie. Terwyl God so getrou is om uitkoms te bring, is dit veral die perspektief op die ewigheid wat ʼn mens dra.

Dit is ʼn stukkende wêreld hierdie. Daar sal altyd stukkend wees totdat Hy op die wolke kom.

Tog kom daar stukkies genesing, ja, voorlopig, maar simbole van die groot uitkoms wat God vir sy kinders voorberei.

Ons kan die wêreld nie ontsnap nie. Dis dan juis hier waar ons geroep word om ʼn verskil te maak.

As jy dit in jou eie krag aandurf sal dit jou onderkry. Gewapen met die volheid van God in Christus Jesus lyk dinge anders.

Dit verteenwoordig uitdagings wat in die krag van sy Gees aangedurf kan word.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.