ToekomsVenster: Die spiraal na onder

(Foto: Shalom Shore/Pexels)

“Hoe lank sal U, o Here, Uself vir altyd verberg, sal u grimmigheid brand soos ʼn vuur?” – Psalms 89:47 (AFR53)

Vandag deel ek gedagtes oor die spiraal na onder en môre fokus ons op die spiraal na bo.

Sommige van ons is meer op gevoelens ingestel. Ander is pragmaties en ander bedink en analiseer dinge. Ons verskil van mekaar en die Here hou van verskeidenheid.

Dink maar net aan die natuur. Nuwe spesies word steeds ontdek. Studies van God se handewerk gryp mense se verbeelding aan. Die volheid van wat Hy geskep het sal seker nooit volledig ontsluit word nie. Hy is die God van verrassings en kreatief na sy aard.

Ek en my ander helfte Suzette het so ʼn oggend-ritueel wat ons volg. Omdat ek nou sogenaamd afgetree het, kan ek meestal my dagprogram reël soos dit my en ons pas. Derhalwe geniet ons koffie, gee die voëltjies wat vir ontbyt opgedaag het saadjies en kuier oor die goed wat vir ons belangrik is.

Die wêreld is deurmekaar en dit geld vir ons lewens as individue en egpare, gesinne, vriendskappe en sosiale kringe en verder. Dit geld ook vir Suid-Afrika en die wêreld.

Die hartseer dinge wat gebeur, die goed wat mense mekaar aandoen, maak ʼn mens somber en hartseer. Namate ons, so terwyl ons sit en gesels oor hierdie dinge, nadink, word ons somtyds betrap dat negatiwiteit en selfs ʼn gevoel van hopeloosheid ons oorweldig.

Vanoggend merk Suzette op dat ons afgly met die spiraal van negatiwiteit en pessimisme. Dis nie lank nie en die hele dag word deur somberheid en teleurstelling gekenmerk. Dit is nie so maklik om uit dié graf uit te kom nie. Dis asof die walle op jou inplof en dreig om jou onder die kombers van hopeloosheid te begrawe.

Daar onder in die spiraal se hart raak perspektiewe erg benewel. Al wat jy sien is die negatiewe. Die vrae oorweldig jou en jy wonder waarom die Here dié dinge toelaat. Ja, nie lank nie en Hy is in die beskuldigdebank waar jou geloofsvertroue begin wankel.

Natuurlik wil die Here nie hê dat ons so moet leef nie. Daar is ʼn ander manier om die lewe en sy uitdagings te benader.

Maar eers moet ons teen die negatiewe spiraal opklim en weer bo uitkom.

Klim vandag saam met my na bo.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.