ToekomsVenster: Die sterre op hul helderste

Foto: Denis Degioanni/Unsplash

Wanneer dit donker is skyn die sterre op hul helderste

Die lig van die stad verduister die skoonheid van die sterrehemel. Ek is daarvan oortuig dat die meeste van julle al iewers ver van die stad se lawaai die nagtelike skoonheid bewonder het. Ek het die voorreg gehad om Sutherland se planetarium te besoek en my te verlustig in die majestueuse handewerk van God. Ek verstaan van die sterre en planete, van melkweë en wie weet wat, baie min. Mense het al so dikwels aan my verduidelik waar lê hierdie en daardie konstellasie en hoe ʼn mens dit kan posisioneer, maar dis gou weer vergete.

Vir my is dit genoeg om die sterrehemel te bewonder. In my hart begin die woorde van die bekende

“Hoe groot is U” opkom. “Dan moet ek juig my Redder en my God. Hoe groot is U”.

Ons gesels ʼn bietjie oor sonsverduistering in ʼn mens se lewe, daardie onwelkome gebeurtenisse wat jou totaal ontwrig en van koers af wil dwing. Dié geleenthede word nie vooraf ge-dagboek nie, doodgewoon omdat ʼn mens nie weet wanneer dit kom nie. Ek het gisteraand so ʼn ervaring gehad en dit het my heeltemal oorval en ontwrig.

Hoe meer jy jouself tot kalmte maan en selfs aan die beloftes van God herinner, hoe onstuimiger word dit. Die slaap ontwyk jou en as jy wel aan die slaap raak, bly jy onrustig. Jy word moeg wakker en wil die kombers oor jou kop trek en eerder nie met die werklikheid gekonfronteer word nie.

Maar staan op en trek die gordyne wawyd oop veral nou dat dit sommer lekker vroeg reeds lig is. Raak oorstelp opgewonde oor die wonder van ʼn nuwe dag, gepak met nuwe moontlikhede. Bely dat God nie verras word deur ons negatiewe omstandighede nie.

Hou in gedagte dat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet. Dink terug aan jou lewe en vra of Hy jou al ooit in die steek gelaat het.

Dis nie die einde van jou lewe nie. Dis net ʼn nag lank, die donkerte. As jy mooi oplet sal jy sien dat die sterre op hul helderste skyn. En dan weer, die son triomfeer altyd weer oor die duisternis. Dit sal ook vandag die geval wees.

Ps. 139:12 – maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Von ·

Dankie Here Jesus dat U hierdie Ps 139 self verwoord het…U ken ons deur en deur en vergewe ons tekortkominge….Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.