ToekomsVenster: Die teken sê stop

Foto: Luke van Zyl/Unsplash.

Wat verstaan ons nie? Padtekens is een van die realiteite waarmee ons moet reken. Ek reken dat geen padtekens moedswillig daar geplaas is nie. Mense wat beter weet het die veiligheid van ander oorweeg en besluit om sekere padtekens aan te bring. Verantwoordelike burgers gee daaraan gehoor.

Sommige padtekens waarsku, daar lê ʼn skerp draai voor, daar is lopende diere op die pad, die pad is nat en ʼn motor gly maklik. Die bedoeling is seker om mense tot verantwoordelike bestuur aan te moedig. Ander padtekens is daar om spoedgrense aan te dui. Ander vertel jou selfs dat daar kameras is wat jou optrede moniteer en dat jy indien jy die tekens ignoreer met ʼn stewige boete op hande mag sit.

Dan is daar stopstrate en toegee tekens. Die twee verskil wesentlik. Dis veral die stopstraat wat klaarblyklik nie baie goed verstaan word nie.

Hier by ons ignoreer tientalle motoriste, in mooi luukse motors (terwyl ons altyd die skuld wil verplaas na ander), die stopstraat soos ʼn stopstraat (sê die gesegde). Die verontagsaming van stopstrate het al ʼn idioom geword, so hoog is die insidensie daarvan.

Die gevolge daarvan hoef nie uitgespel te word nie. Wat daarvan as beide partye besluit om die stopstraat te ignoreer? Wat sal gebeur as niemand toegee nie? Padtekens is daar om gehoorsaam te word. Dis dom om dit te ignoreer.

God se Woord is vol padtekens. Ons is immers op reis. Daar is ʼn verskeidenheid tekens wat interpreteer moet word. Dit help nie om God se stopstrate doodgewoon te ignoreer nie. Soos in die werklike lewe gaan dit jou duur te staan kom.

Die tien gebooie is steeds God se goue reël vir lewe en optrede. Vir die wat daarop roem dat ons nie onder die wet is nie wil ek vra, watter een van die gebooie wil jy uitlaat? Nuwe Testamenties word die gebooie op verskeie plekke gekonkretiseer.

Daar word selfs gesê dat mense wat volhardend met die verkeerde besig is die Koninkryk van God nie sal sien nie. Waarom jaag ons oor God se stopstrate?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frieda ·

Dankie vir elke dag se leer en help my om stoptekens te gehoorsaam.

Elaine ·

Hier in Australië het ons nie stoptekens nie maar ons almal weet ons moet stop by vierrigtings of as ons lings of regs kyk. En ons almal stop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.