ToekomsVenster: Die twaalf apostels kom terug

Foto: Sam Wheeler/Unsplash.com

Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. – Lees Markus 6:30-34

Ek kan my die entoesiasme en opgewondenheid van die dissipels wat terugkeer van hul uitreik, voorstel. Genesingswonders het plaasgevind, demone is uitgedryf, ander het insig gekry en tot geloof gekom. Daar is in al hul behoeftes voorsien selfs al het hulle geen voedsel saamgeneem nie.

Sommige plekke het hul boodskap met oortuiging aangeneem. Daar het hulle gebly. Ander het hulle verwerp. Daarvandaan het hulle vertrek net soos Jesus dit vir hulle gesê het. Nou is hulle terug om te vertel, te toets , te leer, te verfyn, te rus. Daarom weg na ʼn stil plek toe.

Opmerklik dat Jesus ʼn tyd van rus begroot nadat die dissipels terugkeer van hul uitreik. Tye van werk en inspanning moet noodwendig met tye van rus afgewissel word. Ons is mense, nie masjiene nie.

Die heersende kultuur werk met aanwysbare resultate en produktiwiteit. Uitsette word beloon. Ons werk is anders. Ons vertrou die Gees van God met die saad wat gesaai is. Een saai, ʼn ander plant, ʼn ander lei nat, elkeen doen die werk soos dit hom of haal opgelaai is. God laat groei. Dit vind in stilte plaas, meer dikwels waar ʼn mens nie kan sien nie.

ʼn Stil plekkie waar ʼn mens kan rus. Stilte en rus is die twee belangrike sake wat hier genoem word. Vir ander mag dit na tyd mors klink. Vir ʼn kind van God niks minder belangrik as die uitreik self nie. Dis in stil wees en wag dat ons krag lê sê die skrywer in Jesaja 30:15.

Jesus word egter weereens oorval deur ʼn skare mense wat begerig is om van Hom te leer. Sy hart gaan na hulle uit. Hy sien hulle nood raak en dit maak ʼn appél op Hom. Die rus sal vir eers moet wag.

Dit verg fyn onderskeidingsvermoë om te weet wanneer om aan te gaan en wanneer om doodeenvoudig nee te sê. Dis soos die spreekwoordelike suurstofmasker in die vliegtuig. Indien daar ʼn situasie ontstaan en die maskers uit die paneel bokant uitval is die leiding wat gegee word, eers op jou gesig en dan help jy mense rondom jou. Na alles, ʼn mens kan net gee wat jy ontvang het, in stilte ontvang het.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.