ToekomsVenster: Die twaalf apostels kom terug

see_vrou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ʼn stil plek toe en rus ʼn bietjie.”

Hulle het met ʼn skuit na ʼn stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees. Baie mense het hulle egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy ʼn groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie ʼn wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer. – Matt. 14:13-14; Luk. 9:10-11; Joh. 6:1-4

Ek kan my die entoesiasme en opgewondenheid van die dissipels wat terugkeer van hul uitreik voorstel. Genesingswonders het plaasgevind, demone is uitgedryf, ander het insig gekry en tot geloof gekom. Daar is in al hul behoeftes voorsien, selfs al het hulle geen voedsel saamgeneem nie.

Sommige plekke het hul boodskap met oortuiging aangeneem. Daar het hulle gebly. Ander het hulle verwerp. Daarvandaan het hulle vertrek net soos Jesus dit vir hulle gesê het. Nou is hulle terug om te vertel, te toets, te leer, te verfyn, te rus. Daarom weg na ʼn stil plek toe.

Opmerklik dat Jesus ʼn tyd van rus begroot nadat die dissipels terugkeer van hul uitreik. Tye van werk en inspanning moet noodwendig met tye van rus afgewissel word. Ons is mense, nie masjiene nie.

Die heersende kultuur werk met aanwysbare resultate en produktiwiteit. Uitsette word beloon. Ons werk is anders. Ons vertrou die Gees van God met die saad wat gesaai is.

There is a place of quiet rest
Deep in the heart of God
There is a place of quiet rest,
Near to the heart of God.

Een saai, ʼn ander plant, ʼn ander lei nat, elkeen doen die werk soos dit hom of haar opgelê is. God laat groei. Dit vind in stilte plaas, meer dikwels waar ʼn mens nie kan sien nie.

ʼn Stil plekkie waar ʼn mens kan rus. Stilte en rus is die twee belangrike sake wat hier genoem word. Vir ander mag dit na tyd mors klink. Vir ʼn kind van God is niks minder belangrik as die uitreik self nie. Dis in stil wees en wag dat ons krag lê, sê die skrywer.

Jesaja 30:15 – Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.