ToekomsVenster: Die tweede vermeerdering van die brood

brood-02

Foto: Kate Remmer/Unsplash.com

In daardie selfde tyd was daar weer ‘n keer ‘n groot menigte mense by Jesus, en hulle het niks gehad om te eet nie. Hy roep toe sy dissipels nader en sê vir hulle: “Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. As Ek hulle nou sonder kos huis toe stuur, sal hulle langs die pad beswyk. Party van hulle kom van ver af.” Maar die dissipels sê vir Hom: “Waar sal ‘n mens in hierdie verlatenheid genoeg brood vir hulle kan kry?” Hy vra hulle toe: “Hoeveel brood het julle?” “Sewe,” antwoord hulle. Toe gee Hy die mense bevel om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en God gedank het, het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee om uit te deel, en hulle het dit aan die mense voorgesit. Hulle het ook ‘n paar vissies gehad; en nadat Hy die seën gevra het, het Hy gesê hulle moet dit ook uitdeel. Die mense het geëet en genoeg gekry. En hulle het nog sewe mandjies vol bymekaargemaak van die stukke wat oorgebly het. Daar was omtrent vier duisend mense. Daarna het Hy hulle huis toe gestuur. Hy het toe dadelik saam met sy dissipels in die skuit geklim en na die gebied Dalmanuta toe gegaan. – Markus 8:1-10

Baie mense, die Bybel sê ʼn groot menigte, ʼn skare mense, drie dae lank in die teenwoordigheid van Jesus van Nasaret sonder iets te ete. Waarom sou hulle nie “betyds” huiswaarts keer nie? Waarom reken hierdie mense hul fisiese honger van minder belang net solank hulle in Jesus se teenwoordigheid kan wees? Probeer jou hierdie situasie indink. Wat beleef hulle van Jesus wat ons dalk mis?

Daar is ʼn honger wat groter is as die fisiese. Hierdie mense is geestelik so “uitgehonger” dat Jesus vir hul welstand vrees. Hulle mag op pad na hulle huise letterlik beswyk van die honger. Ek wil my voorstel dat Jesus hulle by meer as een geleentheid gedurende die afgelope drie dae aangemoedig het om huiswaarts te keer. Hulle het verkies om te bly, drie dae lank.

“Die erediens is te lank”. Ek is seker jy het al hierdie klagte gehoor. Dalk is jy en ek ook van dié wat kla. Eredienste moet binne ’n uur afgehandel word. Daar is ander afsprake wat wag. As ons ʼn uur by die erediens aangedoen het, het ons ons plig gepleeg. Sorg dat alles vinnig bekwaam en professioneel afgehandel word. Van ander byeenkomste is daar bykans nie meer sprake nie. Die mense is te besig.

Sprake van die leiding van die Heilige Gees is daar nie. Die diens verloop volgens ʼn vooraf uitgewerkte rooster en herinner aan ʼn produksie in die staatsteater. Soveel minute vir lof en aanbidding en soveel vir die preek.

As die diens vyf minute langer hou sal ons nie kan koffie drink na die diens nie. Haastig, selfs en veral op ʼn Sondag.

Wat is die verskil tussen die skare in die gelese gedeelte en die klompie entoesiaste wat darem nog getrou in hul bywoning van eredienste is? Waar is die honger en dors waarvan die Bybel praat? Waar is die Psalmdigter se smagtende verlange na God, die opruk na die tempel en die gepaardgaande vreugde, die verwondering aan en vir die wet van God in Psalm 119, die troos van Psalm 73?

Herlewing is wanneer God se kinders weer honger word na Hom. Bid saam vir herlewing. Dit is al wat Suid-Afrika kan red.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MW ·

Waar is die dae van die groot Hervorming ? Kerk in grotte en rotsskuilings, mense kon nie genoeg van die evangelie kry nie. Vandag mag jy nie eens godsdiens in jou werksplek opper sonder oor die kole gehaal te word nie. Mag nie eens jou mede kollega op die vingers tik oor hy/sy Jesus se naam ydelik gebruik nie? Lui dit ‘n klokkie? Terug oppad donker eeue toe ? sola scriptura – ons bid saam vir daardie herlewing

Maria ·

ha,ha,ha…..sak my kop met skame erken dit en dit waar ….dankie sodat geeslik oe oopgaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.