ToekomsVenster: Die tweede vermeerdering van die brood

Foto: Pixabay.com

In daardie selfde tyd was daar weer ʼn keer ʼn groot menigte mense by Jesus, en hulle het niks gehad om te eet nie. Hy roep toe sy dissipels nader en sê vir hulle: “Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie. As Ek hulle nou sonder kos huis toe stuur, sal hulle langs die pad beswyk. Party van hulle kom van ver af.” Maar die dissipels sê vir Hom: “Waar sal ʼn mens in hierdie verlatenheid genoeg brood vir hulle kan kry?” Hy vra hulle toe: “Hoeveel brood het julle?” Sewe,” antwoord hulle. Toe gee Hy die mense bevel om op die grond te gaan sit. Nadat Hy die sewe brode geneem en God gedank het, het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee om uit te deel, en hulle het dit aan die mense voorgesit. Hulle het ook ʼn paar vissies gehad; en nadat Hy die seën gevra het, het Hy gesê hulle moet dit ook uitdeel. Die mense het geëet en genoeg gekry. En hulle het nog sewe mandjies vol bymekaargemaak van die stukke wat oorgebly het.  Daar was omtrent vier duisend mense. Daarna het Hy hulle huis toe gestuur. Hy het toe dadelik saam met sy dissipels in die skuit geklim en na die gebied Dalmanuta toe gegaan. – Mark. 8:1-10

Baie mense, die Bybel sê ʼn groot menigte, ʼn skare mense het drie dae lank in die teenwoordigheid van Jesus van Nasaret spandeer. In drie dae het hulle niks gehad om te eet nie. Waarom sou hulle nie huiswaarts keer nie? Waarom reken hierdie mense hul fisieke honger van minder belang net solank hulle in Jesus se teenwoordigheid kan wees? Probeer jou hierdie situasie indink. Wat beleef hulle van Jesus wat ons misloop?

Daar is ʼn honger wat groter is as die fisieke. Hierdie mense is so uitgehonger dat Jesus vir hul welstand vrees. Hulle mag op pad na hul huise letterlik beswyk van honger. Ek wil my voorstel dat Jesus hulle by meer as een geleentheid gedurende die afgelope drie dae aangemoedig het om huiswaarts te keer. Hulle het verkies om te bly, drie dae lank.

“Die erediens is te lank.” Ek is seker jy het al hierdie gekla gehoor. Dalk is ek en jy ook van diegene wat kla. Eredienste moet binne een uur afgehandel word. Daar is ander afsprake wat wag. As ons ʼn uur by die erediens aangedoen het, het ons ons plig gepleeg. Sorg dat alles vinnig, bekwaam en professioneel afgehandel word.

Sprake van die leiding van die Heilige Gees is daar nie. Die diens verloop volgens ʼn vooraf uitgewerkte rooster en herinner aan ʼn produksie in die Staatsteater. Soveel minute vir lof en aanbidding en soveel vir die preek.

As die diens vyf minute langer hou, sal ons nie kan koffie drink ná die diens nie. Haastig, selfs en veral op ʼn Sondag.

Wat is die verskil tussen die skare in die gelese gedeelte en die klompie entoesiaste wat darem nog getrou in hul bywoning van eredienste is? Waar is die honger en dors waarvan die Bybel praat? Waar is die psalmdigter se smagtende verlange na God, die opruk na die tempel en die gepaardgaande vreugde, die verwondering aan en vir die wet van God (Psalm 119), die troos van Psalm 73?

Herlewing is wanneer God se kinders weer honger word na Hom.

Bid saam vir herlewing.

Dis al wat Suid Afrika kan red.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Madeleine ·

Jannie, jy spreek die VOLLE waarheid in liefde. Wil jou eer vir dit!

Ans ·

Ek stem ook saam dit is asof alles so afgejaag word nie rustigheid nie asof almal net by huis wil kom en weer die dag wil hervat met hul pligte.
Dit is tog ons Sabbatdag ons rus dag Wat my omkrap is dat van vandag se jongmense nie eers meer kerk toe gaan nie gaanaan met hul dag taak en baie van hul het nie so groot geword nie v

Andre ·

Dit was verskriklik treffend baie dankie.
Ek werk in Saudi Arabia, en ek sal vir julle se, ons christene het baie om te leer oor volharding van geloof… Soos u se, as die diens 5min langer is, kla sommige mense. Hier staan mense 3h30 die oggend uit hul bed op om t gaan bid… Ons kerke hou fonds insamelinge ens. vir oorlewing, is dit nie dan ook eintlik soos ‘n mark in die tempel nie?
Ons Dominee het eendag ‘n treffende vraag gevra en ek sit seker nou al so 3 jaar met die vraag: Wie is God vir jou…
Ons is vinnig om te se “Hy is alles”. Sal jy soos Abraham, jou enigste kind kan neem as offer in volharding? Hoeveel van ons vas om die regte rede? Hoeveel van ons neem die nagmaal met skoon gewete? Hoeveel van ons het persoonlikke LIEFDE, nie net vrees nie, vir God. Ek sien selfs binne in die kerk hoe mense oordeel. Dis baaaaaiiiiiieeeee moeilikker om bietjie eerlik na jouself te kyk. Meeste, soos ek, sal verbaas weet hoe broos jou gewete eintlik is…

Hendrik ·

Daar moet dan n groot verskil wees tussen n erediens en om by Jesus se voete te sit. Die Woord sê nie Hy het eredienste gehou vir hierdie mense nie. Dit meld ook nie n kollekte opname nie. Dit sê dat Jesus hulle totale menswees gevoed het, selfs die fisiese behoefte van honger aangespreek het. Miskien moet daar minder gepreek word en meer gefokus word om mense te help om Vader se stem te hoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.