ToekomsVenster: Die uitdaging van geestelike blindheid

oog-sien

Foto: Patrick Brinksma/Unsplash.com

Hulle het in Betsaida aangekom, en toe bring die mense ‘n blinde man na Jesus toe en vra Hom om hom aan te raak. Hy het die blinde man aan die hand gevat en hom uit die dorp uit gelei. Toe het Hy op sy oë gespoeg, sy hande daarop gesit en vir hom gevra: “Sien jy al iets?” Hy het sy oë geknip en gesê: “Ek sien mense, iets soos bome. Ek sien hulle loop.” Daarna het Jesus weer sy hande op sy oë gesit. Die man het sy oë oopgemaak, en hulle was reg. Hy het alles duidelik gesien. Jesus het hom huis toe gestuur en gesê: “Moenie by die dorp aangaan nie.” – Markus 8:22-26

Fisiese blindheid is sekerlik ʼn groot uitdaging. Ek kan myself dit nie voorstel hoe dit moet voel om blind te wees nie. Mens kry diep waardering as jy sien hoe gesigsgestremde mense hul weg vind en te midde van hierdie uitdagings voluit leef. ʼn Mens is immers veel meer as jou sogenaamde gestremdheid.

Uiteindelik is daar geen mens wat in alle opsigte die ideaal verteenwoordig nie. Ons almal ervaar op die een of ander gebied uitdagings. Vir sommige is dit emosioneel, ander intellektueel en ander fisies. Uiteindelik sal al hierdie uitdagings in die ewigheid opgehef word.

Daar is mense wat aanvanklik kon sien en dan later die gawe verloor. Dit moet besonder moeilik wees vir sulke mense. Terwyl die lied ons leer “I once was blind but now I see” het ons hier met die omgekeerde te doen.

In ons eie omgewing is daar ʼn dominee wat nie kan sien nie. Vir ons almal wat die dominee ken is hy ʼn groot inspirasie. Hy het ʼn lieflike humorsin en sal selfs met sy eie blindheid effens spot. Dis duidelik dat hy gemaklik is met homself en in elke opsig voluit leef.

Dit is dus so dat ʼn mens fisiese blindheid kan aanvaar en daarmee saam kan leef sonder dat dit moontlikhede onnodig inperk. Na alles staan hierdie dominee vierkantig in die bediening en versorg hy die mense wat aan hom toevertrou is. Ons moet baie dankbaar wees vir die voorreg om die gebruik van ons ledemate en sintuie te hê.

Geestelike blindheid is egter iets anders. Die persoon wat aan hierdie vorm van blindheid lei het innerlike sig nodig. Dit kom wanneer die Heilige Gees daardie persoon se lewe verlig. Ons noem dit wedergeboorte. Dit is waarom Jesus gekom het. Uiteraard kan Hy soos in hierdie geval fisiese blindheid genees. Dis is egter veral geestelike blindheid wat aangespreek moet word.

Wie geestelik blind is, kan nie aan God se Woord uitdrukking gee nie. Trouens, geestelike waarhede maak nie sin nie. Die persoon voel hom of haar nie aangesproke deur God nie. Tensy God deur sy Gees daardie persoon se oë open sal daardie persoon blind sterwe.

`ʼn Mens kan fisies blind wees, sterf, maar behoue wees. In die hemel is daar geen fisiese belemmering nie. Wie geestelik blind sterf is egter verlore en dit is ver van God se bedoeling dat alle mense gered sal word en kennis van die ewige lewe sal bekom.

God wil ons oë open sodat ons kan sien waarop dit aankom.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.