ToekomsVenster: Die uur is reeds laat

(Foto: Aron Visuals/Unsplash)

En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. – Romeine 13:11

Slaap is ’n wonder soete ding maar dan moet dit nie ’n ontsnappingsroete of ontkenning wees nie. Ons hanteer stres of verskillende maniere. Sommige mense gaan slaap om daarvan te ontsnap. Ongelukkig bly die uitdaging staan en as ’n mens wakker word sit jy met dieselfde dilemma.

Paulus maan die gemeente in Rome, ook elke gelowige, dat die tyd daar is om uit die slaap wakker te word. Dit is ’n laat uur. Waarna sou hy verwys?

Waarskynlik meer as een saak. Enersyds het die boosheid en onverskilligheid van die wêreld en die ongemak selfs lyding wat gelowiges moet verduur as gevolg daarvan volle maat bereik. Die Here sê as’t ware tot hier en nie verder nie. Daar is ’n dag bepaal waarop die God van hemel en aarde ’n streep in die sand trek en verklaar dat genoeg, genoeg is. Dit sal ’n sware dag wees vir hulle wat heimlik gedink het dat hulle met die ongeregtigheid kan voortgaan sonder om een of ander tyd rekenskap te gee. Namate die dag nader kom, sal gelowiges hulself moet staal. Tye word inderdaad moeiliker en meer uitdagend. Dink maar aan Jesus se woorde as hy daarop wys dat die laaste dae gekenmerk sal word deur arrogante verkeerd doen, koudheid vir die dinge van God en ’n gebrek aan respek vir ander.

Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel. – Matteus 24:12

Daar is egter ’n ander perspektief. Hoe nader ons aan hierdie afsnypunt beweeg hoe nader is ons finale verlossing. Ons is verlos, word verlos en sal verlos word. Ook die finale verlossing is gedagboek en staan by God vas. Die dag van afrekening sal ook ’n dag van verlossing, oorwinning beteken vir die wat hul hoop op God in Christus Jesus gevestig het.

Tyd vir slaap is volgens Paulus nou iets van die verlede. Die basuin mag enige dag weerklink. Ons het ’n lewende hoop.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.