ToekomsVenster: Die vastyd

paardebloem-blaas-in-die-wind

Foto: Dawid Zawiła/Unsplash.com

Johannes se volgelinge en die Fariseërs was besig om te vas, en die mense kom toe en vra vir Jesus: “Waarom vas die volgelinge van Johannes en die volgelinge van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?” Jesus antwoord hulle: “Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? Nee, solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal ‘n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dan, op daardie dag, sal hulle vas. “Niemand gooi ook nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan laat die wyn die sakke oopbars, en die wyn sowel as die sakke gaan verlore. Nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi.” – Markus 2:18-22

Die skyn van godsdienstigheid word duidelik ten toon gestel deur die verontwaardiging van die Fariseërs dat Jesus se dissipels nie vas nie. Immers, godsdiens het reëls waaraan voldoen word. Wie nie binne die raamwerk van aanvaarde godsdienstige gedrag inpas nie moet noodwendig buite God se wil en koninkryk staan.

Dis nie goed om reëls aan te lê vir ander mense nie. As die Fariseërs eerlik was sou hulle moes erken dat vas op die wyse waarop hulle dit doen hulle niks nader aan God gebring het nie. Die koudheid en strakheid van ʼn veruiterlikte godsdienstige lewe beïndruk God nie en bring nie vreugde nie. Derhalwe Jesus se antwoord.

Daar is rede om fees te vier. Die bruidegom is hier.

In ons dag kom daar al hoe meer oproepe om weer aan ou Testamentiese praktyke te voldoen. Uiteraard staan dit mense vry om hul persoonlike Godsbelewenis inhoud te gee soos hulle goedvind. Dan weer is daar mense wat ernstige probleem het met die vier van Kersfees, verjaardae, ander geleenthede.

Die Bybel sê as iets vir jou verkeerd is moet jy jouself daarvan weerhou. Elke mens moet vir hom of haarself besluit. Die probleem kom egter wanneer hierdie voor- en afkeure godsdienstige voorskrifte word wat ook vir ander mense moet geld.

Dan word mense se geestelikheid gemeet aan die mate waaraan aan hierdie voorskrifte voldoen word. As ek die Bybel reg verstaan is dit ʼn vorm van geestelike hoogmoed. Die Bybel is baie duidelik oor hoogmoed. Lees gerus Spreuke 6:17;8:13;16:18;29:23

God is by uitstek die God van die nuwe. Jesus het ʼn nuwe bedeling aangekondig en voorgeleef. Dis ʼn tyd en era waarin uiterlike godsdiens nie aanvaarbaar is nie. Trouens dit was nooit vir God aanneemlik nie. Dis wat Israel met die wet en voorskrifte van God gemaak het.

Nou kom Jesus om vryheid te herstel. Dis soos nuwe lap op ou stuk materiaal en soos nuwe wyn in ou sakke. Dit kan naas mekaar nie bestaan nie. Leef jy nog onder die wet?

As ons weer ʼn keer luister vra jouself af in watter mate jou verstaan van God en sy plan vir jou lewe en die wêreld bepaal word deur reëls, wette en regulasies? Moenie daaraan toegee nie.

Asem die vryheid wat Jesus vir jou gekoop het opnuut in.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.