ToekomsVenster: Die vastyd

blydskap

Argieffoto.

Johannes se volgelinge en die Fariseërs was besig om te vas, en die mense kom toe en vra vir Jesus: “Waarom vas die volgelinge van Johannes en die volgelinge van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?” Jesus antwoord hulle: “Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? Nee, solank hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal ‘n tyd kom wanneer die bruidegom van hulle af weggeneem sal word. Dan, op daardie dag, sal hulle vas. “Niemand lap tog ou klere met ongekrimpte materiaal nie, want dan skeur die nuwe lap nog ‘n stuk van die oue uit, en die gat word net groter. “Niemand gooi ook nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan laat die wyn die sakke oopbars, en die wyn sowel as die sakke gaan verlore. Nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi.” – Markus 2:18-22

Die skyn van godsdienstigheid word duidelik tentoongestel deur die Fariseërs se verontwaardiging wanneer hulle uitvind dat Jesus se dissipels nie vas nie. Volgens hul denkwyse het godsdiens immers reëls waaraan daar voldoen moet word. Wie nie binne die raamwerk van aanvaarde godsdienstige gedrag inpas nie, moet dus buite God se wil en koninkryk staan.

Dis nie goed om reëls vir ander mense neer te lê nie. As die Fariseërs eerlik was, sou hulle moes erken dat vas hulle nie noodwendig nader aan God gebring het nie. God word nie beïndruk deur uiterlike vertoon nie en so ’n godsdienstig lewe bring ook nie vreugde nie – dis koud en strak. Derhalwe Jesus se antwoord. Daar is rede om fees te vier; die Bruidegom is hier.

In vandag se tyd is daar al hoe meer mense wat ’n beroep op gelowiges doen om weer aan Ou Testamentiese praktyke te voldoen. Daar is ook diegene wat ’n ernstige probleem het met die vier van Kersfees, verjaardae en ander geleenthede. Uiteraard staan dit mense vry om hul persoonlike Godsbelewenis inhoud te gee soos hulle goedvind. Die Bybel sê as iets vir jou verkeerd is, moet jy jouself daarvan weerhou. Elke mens moet dus vir hom of haarself besluit.

Die probleem kom egter wanneer hierdie voorkeure en afkeure godsdienstige voorskrifte word wat ook vir ander mense moet geld. Dan word mense se geestelike temperatuur gemeet aan die mate waartoe hulle aan hierdie voorskrifte voldoen. As ek die Bybel reg verstaan, is dit ʼn vorm van geestelike hoogmoed. En die Bybel is baie duidelik oor hoogmoed.

God is by uitstek die God van die nuwe. Jesus het ʼn nuwe bedeling aangekondig en uitgeleef. Dis ʼn tyd en era waarin uiterlike vertoon van godsdiens nie meer aanvaarbaar is nie. Trouens, dit was nog nooit aanneemlik vir God nie. Dís wat Israel met die wet en voorskrifte van God gemaak het. Dis soos nuwe lap op ’n ou stuk materiaal en nuwe wyn in ou sakke. Dit kan nie naas mekaar bestaan nie. Jesus het juis gekom om vryheid te herstel. Leef jy dalk nog onder die wet?

As ons weer ʼn keer na die Woord luister, vra jouself af in watter mate jou begrip van God en sy plan vir jou lewe en die wêreld bepaal word deur reëls, wette en regulasies. Moenie daaraan toegee nie. Asem die vryheid wat Jesus vir jou gekoop het, opnuut in.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries ·

Wettisisme is net so ‘n groot bedreiging vir die koninkryk van Christus as sekularisasie.

MCH ·

Openbaring 22:14 Salig is die wat sy gebooie doen, so dat hul reg kan he op die boom van die lewe en in gaan in die poorte van die stad. Afr:53
Jesus se laaste woorde aan Johannes.
Nou watter wet is aan die kruis gespyker? Pasop om Paulus se briewe sonder insig te lees en gevolgtrekkings te maak. Kyk net wat se Petrus van Paulus in 2 Petrus 3:15-16 ” En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid , soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, net soos in al die briewe . Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die on geleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf.

MCH ·

Indien die wet aan die kruis gespyker is, wat op aarde rig ons lewe? Jesus se Hy het gekom vir die verlore skape van die huis van Israel. Hy het die Sabbat, Pasga, Pinkster, Fees van ongesuurde brode, Fees van trompette en Huttefees onderhou en nerens gese dis afgeskaf nie. Ons word deur Jesus kinders van God. Aangenome kinders onderwerp hul aan hul nuwe Pa se huisreels. Indien nie, kry ons goed soos leeraars wat Doom spuit op die gemeente en burgerlike verset aanmoedig, maar swyg wanneer landswette gemaak word wat die Skrif duidelik oor is soos lyfstraf en die selfde geslag huwelike.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.