ToekomsVenster: Die verheerliking op die berg

weerlig-wolke

Foto: Max LaRochelle/Unsplash.com

Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg gebring waar hulle heeltemal alleen was. Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander, en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie. Elia en Moses het toe aan hulle verskyn en met Jesus gestaan en praat. Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander. Daar het toe ‘n wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar ‘n stem gekom: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.” En meteens, toe hulle weer kyk, sien hulle niemand meer nie, net Jesus alleen by hulle. – Markus 9:2-8

Totaal oorbluf oor die toneel wat hier voor hulle afspeel besluit Petrus dat daar vir Jesus, Moses en Elia hutte gebou moet word. Dis alles so ideaal hier, Moses en Elia, twee gerespekteerde manne uit die ou Testament staan met Jesus en gesels. Dis ʼn pragtige beskrywing van ʼn bykans onwerklike gebeure.

Jesus se klere is spierwit. Dit herinner aan ander beskrywings van Jesus as die Lam van God. Sy reinheid en heerlikheid straal terwyl Hy Homself in die geselskap van die wet en die profete bevind.

Waaroor die drie so intiem met mekaar gesels is nie duidelik nie maar dit hou waarskynlik verband met Jesus se naderend dood. Miskien het hulle Hom kom bemoedig vir die moeilike tyd wat voor Hom lê. Petrus reken dat hy aan hierdie gebeure permanensie wil verleen. Dit moet vir lank aanhou. Petrus wil dadelik gasvryheidsreëlings in plek kry. Die teks sê dit so mooi, Petrus weet nie eintlik wat hy sê nie, hy is oorhoops met sy opmerking, lomp en onsinnig.

Die stilte word deurbreek met ʼn stem uit die hemel: “Dit is my geliefde Seun, luister na Hom”. Die Vader se hart soos destyds by Jesus se doop bons van trots en bevestiging. Sy Seun is op pad om die hoogste prys te gaan betaal. Hy het die woorde wat lewe gee. Wie van sy water drink sal in ewigheid nie weer dors kry nie.

Miskien is dit genadig dat God Jesus in ʼn wolk, tekenend van God se teenwoordigheid, omhul. Die Bybel sê Petrus en sy kollegas was verskrik. Wie kan die heerlikheid van God aanskou en bly lewe? Moses het begeer om God te sien maar het slegs met ʼn terugskou na die verbygaande heerlikheid gestraal.

Jesaja getuig In die sterfjaar van koning Hosea het ek die Here gesien. Wie roep nie uit saam hom nie “weë my ek is ʼn sondige mens en ek woon onder ʼn geslag van Godsvervreemdes”.

Ons bid so dikwels dat God Homself in al sy heerlikheid aan ons sal openbaar.

Wanneer God Homself op Sion openbaar is daar manifestasies in die natuur. Aardbewings, donderslae, flitse. Die volk smeek Moses om namens hulle met God te praat. Die oomblik is te groot.

Die ganse werklikheid kom ʼn beweging. Sy verskyning is aardskuddend. Dis ontsagwekkend en gevaarlik vir wie onvoorbereid dit in sy teenwoordigheid waag.

Johannes val soos ʼn dooie voor Hom as Hy God op die eiland Patmos ervaar. Miskien moet ons bid: “Here, hul U in ʼn wolk ander sterf ek”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dries ·

GOD is so onbepaalbaar groot en verhewe bo ons, ons kan hom nie met ons verstand bepaal nie, in Hom glo sonder om te twyfel en tog is hierdie grote GOD baie lief vir ons en is ons as gelowiges nerens so welkom as in Sy teenwoordigheid nie. Ons moet vir Hom ook eerbied toon,maar ook welkom voel wanner ons na Sy Woning vertrek!

Sophia ·

Sjoe, hierdie stuk is baie diep en pragtig geskryf! HOE GROOT IS GOD, ons kan maar net kniel en stil wees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.