ToekomsVenster: Die verheerliking op die berg

wolke

Foto: Ramdlon/Pixabay.com

Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle op ʼn hoë berg gebring waar hulle heeltemal alleen was. Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander, en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie. Elia en Moses het toe aan hulle verskyn en met Jesus gestaan en praat.
Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”
Hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander.
Daar het toe ʼn wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar ʼn stem gekom: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.”
En meteens, toe hulle weer kyk, sien hulle niemand meer nie, net Jesus alleen by hulle. – Markus 9:2-8

Totaal oorbluf oor die toneel wat hom hier voor hulle afspeel, besluit Petrus dat daar vir Jesus, Moses en Elia hutte gebou moet word. Dis alles so ideaal hier, Moses en Elia, twee gerespekteerde manne uit die Ou Testament staan met Jesus en gesels. Dis ʼn pragtige beskrywing van ʼn bykans onwerklike gebeurtenis.

Jesus se klere is spierwit. Dit herinner aan ander beskrywings van Jesus as die Lam van God. Sy reinheid en heerlikheid straal terwyl Hy Homself in die geselskap van die wet en die profete bevind. Waaroor die drie so intiem met mekaar gesels, is nie duidelik nie, maar dit hou waarskynlik verband met Jesus se naderend dood. Miskien het hulle Hom kom bemoedig vir die moeilike tyd wat voor Hom lê.

Petrus reken dat hy aan hierdie gebeure permanensie wil verleen. Dit moet vir lank aanhou. Petrus wil dadelik gasvryheidsreëlings instel. Die teks sê dit so mooi; Petrus weet nie eintlik wat hy sê nie, hy is oorhoops met sy opmerking, lomp en onsinnig.

Die stilte word deurbreek met ʼn stem uit die hemel: “Dit is my geliefde Seun, luister na Hom.” Die Vader se hart bons van trots en bevestiging. Sy Seun is op pad om die hoogste prys te gaan betaal. Hy het die woorde wat lewe gee. Wie van sy water drink, sal in ewigheid nie weer dors kry nie.

Miskien is dit genadig dat God Jesus in ʼn wolk omhul. Die Bybel sê Petrus en sy kollegas was verskrik. Wie kan die heerlikheid van God aanskou en bly lewe? Moses het begeer om God te sien, maar het slegs met ʼn terugskoue na die verbygaande heerlikheid gestraal.

Wie getuig Ek het die Here gesien?

Wie roep nie uit saam met die tollenaar nie: Wee my, ek is ʼn sondige mens en ek woon onder ʼn geslag wat van God vervreem is!

Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende Here.

Ons bid so dikwels dat God Homself in al sy heerlikheid aan ons sal openbaar. Heimlik hoop ons op ʼn teofanie, ʼn Godsverskyning.

Wanneer God Homself op Sion tydens die gee van die dekaloog openbaar, is daar manifestasies in die natuur. Die ganse werklikheid kom in beweging. Sy verskyning is aardskuddend.

Dis ontsagwekkend en gevaarlik vir wie onvoorbereid dit in sy teenwoordigheid waag. Johannes val soos ʼn dooie voor Hom wanneer hy God op die eiland Patmos ervaar.

Miskien moet ons bid: “Here, hul U in ʼn wolk anders sterf ek.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.