Kersdag 2015. Die Verlosser is gebore. Hy is God se antwoord en gawe op die nood, hartseer en sonde van hierdie wêreld. Sy koms getuig van God se onverstaanbare genade. Hy kom vol genade en waarheid. Genade is onverdiende guns. Dis ʼn geskenk van Bo. Dit kan net in geloof ontvang word. Niemand kan daarvoor betaal nie, geen teenprestasie kan die waarde daarvan bereken nie. God skenk sy genade, ʼn Persoon, sy Seun, om onder mense te kom woon en leef. Hy is die wegwyser na God die Vader toe.