ToekomsVenster: Die versoek van Jakobus en Johannes

lig-gloeilampe-liggies

Foto: Vincent Tantardini/Unsplash.com

Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, kom toe na Jesus toe en sê vir Hom: “Here, ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra.” “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” het Hy hulle gevra. Hulle het Hom geantwoord: “Wanneer U as koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.” “Julle weet nie wat julle vra nie,” sê Jesus vir hulle. “Kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink, of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word?” “Ons kan,” sê hulle vir Hom. Daarop sê Jesus vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, ja, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. Maar om aan my regter- of my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie God dit gereed gemaak het.” Toe die tien ander dit hoor, was hulle verontwaardig oor Jakobus en Johannes. Jesus roep hulle toe nader en sê vir hulle: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat hulle sogenaamde regeerders oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle almal se dienaar wees. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” Markus 10:35-45

Ons kan Johannes en Jakobus hulle voortvarendheid vergewe omdat hulle maar net verwoord het wat die ander te skaam was om te vra. Dis in ons aard, om belangrik te wees.

Sou die twee eers vooraf gekoukus het?

Die ander tien is verontwaardig. Waarom? Omdat hulle nie daaraan gedink het nie? As dit hulle nie gepla het nie sou hulle gesê het “Here, dis reg so. Ons gun dit vir hulle. Ons weet hulle verdien dit”.

Wil jy ook belangriker wees as ander mense?

In die Here se wysheid sit hulle in die woorde van Openbaring in ʼn kring rondom die troon. Lees gerus Openbaring 4. Die troon van God staan in die middel en die res – 24 ouderlinge wat die kerk in die ou en nuwe Testament verteenwoordig, die vier lewende wesens wat die hele geskape werklikheid verteenwoordig, en die miljoene engele staan rondom die troon. Alles draai spreekwoordelik om die troon van God.

“Its all about Jesus”. Ons is onverdienstelike slawe. Net te dankbaar dat die genade van God ons bereik het.

God werk anders as mense en menslike sisteme.

Een van die gevaarlikste goed wat daar in die lewe is, is mag. In Suid Afrika het ons ʼn oormaat van magsbeluste mense veral in leierskapsposisies.

Die enigste Een wat volkome met mag vertrou kan word is die Seun van God. Dis asof niks so na ʼn mens se kop toe gaan as mag nie. Ons dink maar aan tientalle voorbeelde wêreldwyd en deur die geskiedenis waar mense in magsposisies ander mense afgeknou en verniel het.

God gee mense mag en gesag sodat hulle kan dien. Dit gebeur egter nie in die praktyk nie. Mag word byna deurgaans misbruik vir persoonlike verryking en die verknegting van mense. Ons beleef so baie daarvan in ons eie land.

Jesus is anders. “Alle mag is aan my gegee in die hemel en op aarde” sê Hy as Hy sy dissipels opdrag gee om die wêreld te Evangeliseer.

Dis ons troos en aansporing om Hom in gehoorsaamheid te volg. Hy gebruik sy mag om ons te beskerm en te versorg.

Is jy in ʼn magposisie?

Hoe gebruik jy dit?

Is jy ʼn dienaar?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Amen. Baie dankie vir hierdie pragtige boodskap Maroela. Dit laat mens baie dink. Mag julle ook almal baie geseën word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.