ToekomsVenster: Die vierde faset van die vrug van die Gees is geduld


geduld-ou-man-wat-visvang

Foto: Commons.wikimedia.org

Die vrug van die Gees is … geduld, vriendelikheid… – Galasiërs 5:22

Geduld as vrug van die Gees word ook aan jou gegee, maar soos met enige geskenk moet jy dit oopmaak en begin gebruik om waarde daaruit te kry. In baie gelowiges is geduld nog ’n latente faset van die vrug. Wanneer ons uitdagings in die oë moet kyk, vra ons baie keer dat die Here ons met geduld moet seën. Dis dan dat ’n vreemde verskynsel kop uitsteek: ons geduld word skielik om elke hoek en draai getoets. Waarom sou dit wees? Het ons gebed dalk by God verby gegaan? O nee, Hy is juis besig om jou gebed te verhoor! Geduld as vrug van die Gees moet nes die ander fasette proefondervindelik ontwikkel word. Die gawes wat ons ontvang, moet binne-in ons gestalte kry.

Sinonieme vir geduld is verdraagsaamheid, lankmoedigheid, volharding, uithouvermoë en standvastigheid. Hierdie woorde is miskien nie in alle opsigte sinoniem met geduld nie, maar beskryf tog die aard van hierdie vrug van die Gees. Geduld maak mens verdraagsaam, lankmoedig en standvastig. Dit stel jou in staat om met volharding en uithouvermoë te funksioneer. ’n Geduldige mens word nie ondergekry deur lang wagtye nie; nie ontmoedig deur uitdagings nie en nie gebreek deur teenstand nie. Die vrug van geduld stel jou in staat om uit te hou en aan te hou totdat die oorwinning deurbreek! Jy wil verseker nie moed opgee kort voor die dag breek nie, nes ’n vrou nie kan moed verloor in die laaste fase van kraam nie. Jy het geduld nodig om te verkry wat die Heilige Gees alles vir jou wil gee. Daarom maan Paulus in Efesiërs 4:2 die gelowiges dat hulle mekaar met beskeidenheid, sagmoedigheid en geduld in liefde moet verdra. En in Kolossense skryf hy:

Deur die krag van Sy Goddelike heerlikheid sal Hy julle toerus met al die krag wat julle nodig het om in alle omstandighede geduldig te volhard. – Kolossense 1:11

Die lewe saam met die Heilige Gees is beslis nie vervelig nie! Die Heilige Gees het net die beste vir jou in gedagte. Hy gaan jou beslis nie los waar jy nou is nie. Hy wil jou diep in God se geheime inlei en jou ’n lewe van bonatuurlike guns gee.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.