ToekomsVenster: Die vraag oor die grootste gebod

grassade-in-sonsondergang

Foto: Aperture Vintage/Unsplash.com

Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ‘n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?” Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.” “Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ en ‘daar is geen ander God as Hy nie.’ En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.” Toe Jesus hom so verstandig hoor praat, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.” Niemand het dit toe meer gewaag om Hom ‘n vraag te stel nie. – Markus 12:28-34

Dis ʼn interessante reaksie van Jesus. Ek is nie seker of die Skrifgeleerde ook probeer het om Jesus vas te trek nie. Wat het hy gehoop Jesus se antwoord sou wees? Dit word nie in die gedeelte gesê nie. Hy is duidelik ingenome met Jesus se antwoord. Dis na sy beoordeling in die kol.

“Jy is nie ver van die Koninkryk van God nie,” sê Jesus. Wat sou dan kort? Wat moet die man nog doen? Ek vermoed Jesus wil sê, “nou moet jy dit doen ook. God bo alles liefhê en jou naaste soos jouself”.

Dit was ʼn uitdaging vir die selfvoldane Skrifgeleerdes. Hulle kom niks kort nie. Hulle is spesialiste op die terrein van Skrifuitleg. Hulle leer ander mense maar kan self nie geleer word nie. Hulle skryf aan ander mense voor maar doen dit nie self nie.

Dis hier waar ons uitdaging as gelowiges lê. Ons skryf aan ander voor maar doen ons dit self? Jy moet jou Bybel lees en bid as jy wil groei sê ons aan ander maar, doen ons dit?

Gereelde kerkgang is noodsaaklik in die lewe van ʼn gelowige maar is nie deel van ons eie geestelike reis nie. Vergewe is ʼn voorvereiste om die Here se guns te beleef maar ons leef self hartstogtelik teenoor ander mense. Stem jou oggend en aandpraatjies ooreen?

Dis een van die dinge wat oor die kerk en sy mense gesê word, “julle is ongeloofwaardig. Julle verwag goed van ander mense maar doen dit self nie. Julle is voorskriftelik en veroordelend maar staan self agter die deur. Julle is vroom aan die buitekant maar binne soos die Fariseërs, vol doodsbeendere”.

Dit sal erg wees as iemand ons in die ewigheid verwyt en sê dat ons die rede is waarom hulle nie geglo het nie. Daar is soveel mense wat seerkry vanweë die lewe en optrede van kinders van die Here. Tyd dat ons konsekwent raak in ons manier van lewe.

Sê en doen, doen en sê is wat Jakobus van ouds by ons wou tuisbring.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.