Jesus het toe voortgegaan om die mense in die tempel te leer, en Hy het vir hulle gesê: “Hoe is dit dat die skrifgeleerdes sê dat die Christus die seun van Dawid is? Dawid self het deur die ingewing van die Gees gesê: “Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.” “Dawid self noem Hom ‘Here’; hoe kan Hy dan sy seun wees?” Die groot menigte mense het graag na Hom geluister. – Markus 12:35-37
As ʼn mens die teks ook in Matteus 22 en Lukas 20 lees word die bedoeling effe duideliker. Die Skrifgeleerdes kan vanweë hul vooroordeel en teologiese raamwerk nie daarby kom om Jesus as die Seun van God te erken nie. Dit sou verraad en godslastering verteenwoordig het.
Jesus vra hulle wie se seun die Christus dan is? Hulle antwoord, Dawid s’n. Jesus uitoorlê hul valsheid deur te verwys dat Dawid die Seun, “Here” noem.
As die Seun dan Here is moet Hy per definisie die Seun van God wees. Soos in die verlede durf die Skrifgeleerdes Hom nie verder versoek nie. Die gedeelte herinner aan Petrus se belydenis “U is die Christus, die Seun van die lewende God”.
Wie en wat verteenwoordig Jesus in jou lewe?
Dis misterieus, die “voor-bestaan” van Jesus. Johannes leer ons dat Hy van die begin af daar was.
“Waar kom God vandaan?” bel-vra iemand die afgelope week. “Ek weet nie. Hy was altyd daar dood gewoon omdat Hy God is. Geen begin en einde. Onverstaanbaar groot en selfgenoegsaam, volhoubaar vanweë sy persoonlikheid”. Goeie vraag maar gebrekkige antwoord.
Kolossense doen moeite om ons te laat verstaan dat alles wat bestaan deur Hom tot stand gekom het. Die ganse kreatuurlike werklikheid, die Skepping het sy ontstaan aan die Seun te danke.
Hoe werk dit? “Ek weet nie”. Nog ʼn power antwoord, maar dis die regte een. “Ek weet nie” is ook ʼn antwoord.
Kon jy mense al so antwoord en tevrede daarvandaan wegloop?
Grote God aan U die eer
Heerlik is waar U regeer
Hemels is U majesteit
Heilig U geregtigheid
U wat alles onderhou
U is ewig en getrou.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za
Vergun my dit te antwoord (geen kerk denominasie invloed), Jesus Christus weet ons is Profeet, Priester en Koning, drie ampte (alle denominasies erken dit ten minste). Hy kon nie al drie ampte gelyktydig uitdien nie, as Profeet het hy gekom as Seun van die Mens, as Priester het Hy gekom as Seun van God, en as Koning kom Hy tydens die millenium as Seun van Dawid. Dit maak Hom ook nie drie persone nie, daar is net EEN God (geen sogemaande heidens en katoliek geinspireerde drie-enige God nie). Beide Jes 9:6 en Mat 28:19 bied Hom aan deur sy drie titels naamlik: Wonderbare Raadsman = Heilige Gees (Parakletos / Advokaat), Almagtige God = Ewige Vader, en Prins van Vrede = Seun. En sy een saamgestelde naam bly steeds Jesus Christus die een en dieselfde God, gister, vandag en toekomstig dieselfde. Groete.