ToekomsVenster: Die vrug van bekering

(Foto: Hernan Pauccara/Unsplash)

Die liefde moet opreg wees. Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. – Rom. 12:9-10

Romeine 12 is gevul met praktiese voorskrifte en lewensreëls wat, as dit toegepas en geleef word, die wêreld vir almal ʼn beter plek sal maak. Daarbenewens is dit niks anders as Christenskap in die praktyk van elke dag se lewe nie.

Dit is tog belangrik om daarop te let dat al hierdie lewensreëls die vorige twaalf hoofstukke van Romeine as onderbou het. Om op te tree en te lewe soos Paulus dit hier voorhou, vloei voort uit ʼn persoonlike ontmoeting met die Here van wie Paulus getuig. Dit is niks anders as die vrug van die bekering nie, lewe onder invloed en inspirasie van die Heilige Gees.

Aan die anderkant mag jy soos ek vind dat die dinge nie altyd so gemaklik en natuurlik kom nie, trouens, gehoorsaamheid kom teen ʼn prys. Die prys is selfprysgawe, die kruispad stap in eenheid met die Een wat dit voor die tyd gestap het. Dit is assosieer met Hom in sy dood, opstanding en hemelvaart. Dit is die manier waarop gelowiges in die “tussentyd” moet lewe, inderdaad, die op gevestig op Jesus, die Begin en die Voleinder van die geloof.

In aansluiting by onder andere 1 Kor.13 wat sê die liefde is as eerste en finale bewys dat jy en ek inderdaad oorgegaan het van die dood in die lewe. Wie nie liefhet nie kan nie op die wedergeboorte roem nie. Dit is die volle uitvoering van die wet, sê Jesus.

Paulus maak die liefde met ʼn praktiese stelreël vas, een waarvan ons nie genoeg sien in ons selfgerigte en somtyds moreel bankrot samelewing nie: Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.

Ek het al gewonder wat dit is van hierdie stelreël wat korruptes en samesweerders in Suid Afrika nie verstaan nie. Jy kan nie by ander mense steel en dan roem op liefde nie. Dit skree ten hemel.

Ons moet egter nie in die versoeking val om die splinter in die ander se oog te gaan uithaal terwyl ons blind is vir die balk in ons eie nie. Is die liefde inderdaad opreg in jou en my lewe? Dit beteken geheel en al sonder bymotiewe en bybedoelings.

Goddank, ons op ʼn reis en ons kan altyd strewe daarna dat hierdie voorskrif ʼn steeds groter wordende werklikheid sal word in ons lewens.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here uit my eie is ek tot niks goeds instaat nie….Gees van God wek my binneste op tot U dienswillige geloofskind…nou tot in alle ewigheid..Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.