Lukas 13: 6-9 – Daarna het Hy hierdie gelykenis vertel: “’n Man het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was. Toe hy vrugte daaraan kom soek maar niks kry nie, sê hy vir die tuinier: ‘Kyk, dis nou drie jaar dat ek aan hierdie vyeboom vrugte kom soek, en ek kry niks nie. Kap hom uit! Waarom moet hy langer die grond uitput?’ Maar die tuinier antwoord: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan. Ek sal die grond rondom hom omspit en bemes. Miskien sal hy dan volgende jaar vrugte dra. Maar so nie, kan u hom uitkap.”
Die eienaar van die boom het ʼn regmatige verwagting gehad, daarmee sal jy sekerlik saamstem. Immers, drie jaar nadat die boom geplant en versorg is sou ʼn mens darem verwag dat daar selfs net ʼn beskeie oes aan die takke hang maar helaas, geen vrug nie. Vyebome in wingerd geplant was nie ʼn ongewone gesig in Israel nie.
Die eienaar is sigbaar en hoorbaar ontsteld en met reg ook. Hy gee summier opdrag dat die boom uitgekap word. Die grond word uitgeput wat maak dat die ander gewasse en bome nie hul volle potensiaal kan bereik nie.
Die tuinier pleit by die eienaar om die boom nog ʼn kans te gee. Hy sal die grond omspit en bemes en wie weet, dalk gedurende die volgende seisoen verras die vyeboom een en elk met ʼn gawe oes. Die eienaar gee bes, maar nog net een kans dan is die dae van die boom getel.
Die gedeelte in oordragtelike sin gelees verwys eerstens na die volk Israel en God se regmatige verwagting dat sy mense soos sy mense sal leef. Keer op keer egter is en word Hy teleurgestel.
Lees ʼn mens die ou Testament word ʼn mens intens bewus van God se onvergelykbare genade en lankmoedige ingesteldheid. Jaar na jaar, profeet op profeet, die een versoeningsoffer na die ander het Hy ernstig met sy volk gepleit.
Waarom wil julle verlore gaan? Kies die lewe, nie die dood nie.
Helaas, die geskiedenis is bekend. Nou het God in die laaste dae sy eie Seun gestuur. Miskien sal Israel hom nou bekeer. Miskien sal die volgende jaar ʼn oes lewer.
Oordragtelik is die gedeelte op elkeen van ons van toepassing. Die vraag is die vraag na vrug. Daar is nie fout met die verwagting dat jy vrug sal dra nie, immers, God het sy Seun gegee. Hoeveel genadejare het nie al gekom en gegaan nie?
Niemand weet egter wanneer dit so laat word dat die eienaar opdrag gee dat die boom verwyder word nie.
Ai, mag die Here ons oorvloedige vrug laat dra, vrug wat by die bekering pas, die omvattende vrug van die Heilige Gees.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za
Here dankie dat U so geduldig is met ons…Heilge Gees vernuwe ons gedagtes