ToekomsVenster: Die ware betekenis van Kersfees

teeliggies-kersliggies-kerse

Foto: Pexels/Pixabay.com

Kersjolyt is ver verwyder van die Kersboodskap.

Kersfees, vanuit Kerst, ‘n Middelnederlandse naam vir ‘Christus’, en dus letterlik Christusfees. Die Engels is dalk nader: Christmas

Die Kersverhaal is aan ons almal bekend. Dis ʼn wonderlike tyd van die jaar en daar is feestelikheid in die lug. Kersfees kom in allerlei verbuigings en vorme op die tafel. Kersfunksies, Kersgeskenke, Kersuitvoerings, Kersliedjies, Kersaanbiedinge, Kersgebak, Kersversierings en Kersbome, so kan ʼn mens aangaan. Die tafels word prettig versier en helderkleurige streamers hang teen die plafon. Happy, merry en blessed is op almal se lippe. Krismis kom net een keer ʼn jaar en dan moet ons feesvier. Ek wil nie daarmee te kenne gee dat alle funksies die boodskap van Kersfees bewustelik tersyde stel nie maar die bekommernis is nie teoreties nie.

Kersfees het alles met vreugde te doen, inderdaad.

Jes. 9:5-6 – Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg. Vir ons is ʼn Seun gebore aan ons is ʼn Seun gegee. Hy sal genoem word…

Kersfees het ook alles met vernedering te doen. Van die begin af moes die Verlosser van hierdie wêreld vir sy lewe vlug. Hy het na sy eiendom gekom maar hulle het Hom nie geag nie.

Jes. 53:2-3 – Die dienaar was soos ‘n loot wat voor die Here uitspruit, soos ‘n plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie. Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.

Dit is nooit te laat om terug te keer na die ware betekenis van Kersfees nie. Gebruik elke geleentheid om te getuig van die wonderbare verlossing wat die Kerskind vir ons bewerk het. Help mense om die skakeringe van Kersfees te verstaan. Dis lag met ʼn traan. Dis gedempte vreugde. Dis hartseer bly. Kersfees het teen ʼn verbysterende prys gekom. ʼn Duur prys, bekostigbaar. Ons mag dit nie uitverkoop nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.