ToekomsVenster: Die wet as bouwerk

huisbou-boukontrakteer-huis

Foto: Pixabay/Pexels.com

“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.” – Matteus 7:24-25

In Matteus 7 vergelyk Jesus die burgers van die koninkryk, hulle wat sy woorde hoor en dit doen, met die bouers van daardie tyd. Hy sê dat hulle verstandige mense is, want hulle bou op ’n vaste fondament en nie op sand nie (Lukas 6:49). In Galilea is die huise wat op sand gebou is, in die vallei-gebied gebou. Wanneer die vloedwaters dus sou kom, is die huise daarmee saam weggespoel. Dit sou dus baie dwaas gewees het om jou huis in die vallei te bou, veral sonder ’n fondasie. Ander huise wat op ’n vaste fondasie in dieselfde gebied gebou is, het bly staan.

Terwyl dit in die droë seisoen was, was daar ooglopend geen probleme nie, maar as die reën eers begin val het, het alles verander. Net so sal dit baie dwaas wees om net die woorde van Jesus aan te hoor, maar dit nie toe te pas nie. Jesus beskryf slegs twee tipes bouers. Die vraag aan elkeen van ons vandag sal wees: Watter een is ek en jy? Bou ons op die vaste fondasie, of bou ons op sand? Die realiteit is: die reën is op pad, die vloedwaters en storms kom en die fondasie van my lewe sal dan vir almal sigbaar wees. Hulle wat die woorde van Jesus hoor en dit doen, sal die stormwater kan oorleef.

Daar is sommige wat meen dat die woord wat gebruik word om Jesus as ’n seun van ’n timmerman te beskryf, ook vertaal kan word met die seun van ’n bouer. Met dit in gedagte maak baie van die beelde wat Jesus gebruik het sin. Hy is die hoeksteen (Efesiërs 2:20), Hy is die fondasie (1 Korintiërs 3:11). Hulle wat op Sy woorde bou, bou op ’n stewige fondasie en die storms van die lewe sal nie hul bouwerk kan beskadig nie.

Delf dieper

Lees vandag Paulus se beskrywing van sy bouwerk in 1 Korintiërs 3:10-15. Wat wys die Here vir jou?

Lees Psalm 127:1. Wat sê dit vir jou oor dit waarmee ons besig moet wees?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.