ToekomsVenster: Die Woord bring lewe


wysheid-met-Bybel

Argieffoto.

Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem. – Lees Psalm 19:8

Die Woord bring lewe, verteenwoordig lewe en wysheid. Die Woord van die Here speel onteenseglik ʼn betekenisvolle en deurslaggewende rol in die lewens van Christene.

Verskillende woorde word in hierdie Psalm gebruik om na God se wil en doel vir hierdie wêreld en in die besonder sy kinders uit te druk. In essensie is die benaminge sinonieme. Die digter probeer die spyker diep inslaan. Hy onderstreep dieselfde saak. Die Woord van die Here is goed, betroubaar, navolgenswaardig, korrek, strategies belangrik, ononderhandelbaar, ens.

Mens sou durf om te vra watter plek die Woord van die Here (die Bybel, uiteraard as geskrewe Woord maar ook die inspraak van die Heilige Gees) in die lewe van ʼn kind van God speel?

Dis lewensnoodsaaklik dat ʼn mens met die Woord sal opgaan en dit in jou hart sal bewaar. Ek het menigmaal al beleef hoedat die Heilige Gees in ʼn oomblik van noudte en onsekerheid die Woord in my hart opdiep en my herinner aan die getroue beloftes van God. Die Gees werk met die neerslag van God se Woord in ons lewens. Dit beteken nie dat ʼn mens elke naam en plek uit jou kop moet ken nie maar ʼn gemaklike omgang met die groot en breë lyne van die Bybel sal jou baie hartseer en desperaatheid spaar.

Vers 11 is besonder mooi…”die Woord is soeter as heuning, druppels uit ʼn heuningkoek”. Onverbloemde genade.

Dis juis omdat ʼn mens jouself maklik ʼn rat voor die oë draai dat ʼn mens die objektiewe leiding van God se Woord nodig het (sien vers 13 vir die blinde kolle in ʼn mens se lewe).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.