ToekomsVenster: Die wyse manne beleef wysheid


drie-wyse-manne

Foto: Kevin Phillips/Publicdomainpictures.net

MATTEUS 2:9

Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was.

Dis heerlik om na mense te luister wat wysheid openbaar. Wysheid is ʼn gawe van die Heilige Gees en gaan met die gawe van onderskeiding gepaard. Dis net wonderlik dat sommige mense op kardinale oomblikke strategies kan dink en met moontlikhede en oplossings vorendag kan kom wat ʼn mens verbaas en verras.

Ons verskil van mekaar, en terwyl ons almal met wysheid moet optree, is die besondere manifestasie van wysheid ʼn heerlike geskenk van Bo.

Dis dwaas om nie na wysheid te luister nie. Dwase dink hulle is slimmer as die wyses. Dis moeilik om ’n mens te onderwerp en leiding van ander te aanvaar. In hul dwaasheid stel hulle hul astrantheid ten toon sodat almal dit kan sien.

Almal sien dit natuurlik behalwe hulle self.

Die wyse manne het die sterre bestudeer en daaruit sekere voorspellings gewaag. Hulle was gesog en in aanvraag by die koninklikes. Hulle is geraadpleeg sodat die regte besluite gemaak word. Toe die sterrekykers die ster van Bethlehem sien, het hulle geweet dat ʼn belangrike aankondiging gemaak word. Iets betekenisvols het gebeur. Hulle het aangevoel dat hulle die ster moes volg en sien waarheen dit lei.

Daar het hulle Goddelike wysheid beleef. Onverstaanbaar is die Goddelike wysheid. ʼn Koning in ʼn krip, die Verlosser van die geknelde en sonde geteisterde wêreld, so hulpeloos en broos?

Uiteraard het hulle nie die verwysingsraamwerk gehad om alles te kon interpreteer nie, maar die gawes wat hulle bring, getuig van koninklike eer.

Dis geskenke wat vir konings bedoel is.

MATTEUS 2:11

Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre.

Wyse manne weet: Die wysheid van die wêreld is dwaasheid by God. Die wysheid van die wêreld het geen substansie nie. Dit berus nie op openbaringskennis nie. Dis onbehoorlik en voorlopig, desnoods nie waar nie.

Die Bybel sê die begin van alle wysheid is die vrees van die Here.

JOB 28:28

Maar aan die mens het Hy gesê: Kyk, die vrees van die HERE is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand.

Dit beteken om met God as die “Gansandere” te reken, Hom die ereplek in jou lewe te gee, Hom te verheerlik en te dien.

Vir aardbewoners lyk dit soos tyd en energie mors. Vir mense wat deur die Gees gelei word, is dit meer kosbaar as boekekennis.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.