ToekomsVenster: Dien met liefde


vryheid

Argieffoto.

Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” – Gal 5:13,14

Paulus skryf aan mense wat die evangelie op sekere punte misverstaan het. Sommige het gedink dat ’n mens moet aanhou om sekere wette na te kom om in die regte verhouding met God te wees. Paulus sê dat enige poging om dit te doen in direkte konflik met die evangelie is. ’n Mens kan nie met die Gees begin en dan in eie krag eindig nie (Gal 3:2,3). ’n Mens kan nie vrygemaak word en dan weer kies om ’n slaaf te word nie (Gal 4:9). Dis tog onsinnig! Daarom, as Christus jou vrygemaak het, is jy werklik vry (Gal 5:1)!

Die probleem is dat ander lesers hierdie vryheid misverstaan het. Hulle het geglo dat ’n mens kan doen wat jy wil as jy vry is. Hulle lewenstyl het nie gepas by mense wat sê dat hulle aan Christus behoort nie. Dis hoekom daar probleme in die gemeente was. Mense het mekaar met hulle woorde uitgetart, afgekraak en verskeur (Gal 5:15,26). Hulle lewe het getuig van mense wat geen verhouding met die Gees en Christus het nie (Gal 5:19-21).

As ’n mens hierdie hoofstuk noukeurig lees, besef jy dat medemenslike verhoudings die plek is waar sonde die duidelikste na vore kom. Lees gerus hoe die lewe sonder die Gees van God die verhoudinge in die gemeente beïnvloed het (5:19-21). Ons weet dat die wet uit twee tafels bestaan – liefde vir God en ons medemens – maar Paulus skryf hier dat die hele wet in een gebod saamgevat word: liefde vir ons medemens (5:14).

As ons ’n gemeente wil wees wat aan Christus getrou bly, werklik in die krag van die Gees wil lewe, sal ons moet begin verstaan dat vryheid ten diepste diens aan mekaar impliseer. Hierdie diens word nie gedryf deur plig nie. Ons doen dit nie omdat ons een of ander taak het om te verrig nie. Paulus sê: dien mekaar in liefde (5:13).

Paulus gebruik die woord wat ons met die diens van ’n slaaf kan vertaal. Om ’n slaaf te wees veronderstel ’n eensydige verhouding. ’n Heer dien nie die slaaf nie. Die slaaf dien die heer. Die orde word nie omgekeer nie. Paulus keer die verhouding op sy kop. In die geloofsgemeenskap is daar nie plek vir heer en slaaf nie. Hier is almal slawe van mekaar!

Dis wat dit beteken om in die krag en onder leiding van die Gees te lewe. Dis die teenpool van ’n lewe sonder Christus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.