ToekomsVenster: Diensknegte soos Hy


vergewe

Argieffoto.

Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. – Fil 2:5-8

In sy reeds baie bekende boek, Models of the Church, verwys Avery Dulles na die verskillende beelde van die kerk. Een hiervan is die kerk as dienaar of slaaf in die wêreld. Dit spreek vanself dat ons só is omdat ons Heer ’n slaaf geword het. Dulles verwys na die woorde van Kardinaal Cushing van Boston in 1966: ‘Jesus het nie net gekom om die koninkryk van God te verkondig nie. Hy het ook gekom om Homself as die verwerkliking daarvan te gee. Hy het gekom om te dien, heel te maak, te versoen en die wonde te verbind. Jesus, so kan ons sê, is op ’n buitengewone manier die Barmhartige Samaritaan. Hy is die een wat langs ons in ons nood en hartseer kom staan.’

As ons aan die kerk dink, moet ons aan Jesus dink. Immers, ons is navolgers van Hom. Dis hoekom ons die kerk is. As Hy langs ons kom staan het, behoort ons ook langs mekaar te staan en mekaar te bedien met heling, versoening en verbinding van wonde. Die kerk en die wêreld is vol stukkende mense wat ons nodig het. Ons bedien hulle in die gesindheid van Christus.

Die woord ‘diakonia’ is daarom een van die mooiste beskrywings van die kerk se werk – dienskneg! Daar is geen direkte opdrag in die Nuwe Testament oor hierdie taak van die gemeente nie. Tog kan ons nie ontken dat daar soveel indirekte opdragte bestaan nie. Ons Heer was ’n kneg. Ons moet dien. Ons Heer het sy dissipels se voete gewas. Ons behoort mekaar se voete te was. Die Gees van die Here het op Jesus gekom en het Hom ’n dienaar gemaak (Jes 61 en Luk 4:16-19). Mense wat die Gees van God ontvang het, begin omgee vir die wêreld soos Hy omgee.

Ons is natuurlik nie slawe van mekaar nie! Dulles maak dit duidelik dat nie Christus of die Christen die wêreld se slawe is nie. Jesus was gehoorsaam tot die dood toe, maar nie aan die wêreld nie. Hy was gehoorsaam aan die Vader. Hy het die Vader gedien. Ons is slawe van God! Slegs as hierdie verhouding verstaan word, kan ons mekaar behoorlik en met die gesindheid van Christus dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.