ToekomsVenster: Dieselfde gesindheid as Paulus

(Foto: Sylwia Bartyzel/Unsplash)

Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. – Fil. 1:20

Hoe nougeset is ons in ons geloofslewe? Het ons dieselfde gesindheid as Paulus in hierdie gedeelte? Hy wil niks doen waaroor hy hom sal hoef te skaam nie.

Ek vrees dat ons dalk ʼn bietjie te gemaklik raak in ons geloofsuitdrukking. Hier moet elkeen vir homself besluit, ek bedoel nie om voorskriftelik te wees nie. Net jy en die Here ken jou hart en lewe.

Ons sien mekaar asof van buite af en word dikwels beïndruk. Die Here ken egter die geheime van ons lewens. Ons kan vir Hom niks wegsteek nie.

Maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig. – Psalms 139:12

Nou is dit so dat ʼn voorbeeldige lewe as sodanig nie die Here beïndruk nie. Nie as ons dit wil aanbied as ʼn basis vir redding nie. Ons word gered op grond van die uitnemende werk van Christus aan die kruis. Sy dood en opstanding is die rede waarom ons losgekom het van die sonde en die oordeel wat daaraan kleef. Die Bybel sê immers “die loon van die sonde is die dood maar die genade gawe van God is die ewige lewe”. Dit sê ook “ons word nie op grond van verdienste gered nie, niemand het enige rede om te roem nie”.

Alles is genade en onverdiende guns alleen.

As egter die reddende genade en liefde van God vir my ʼn werklikheid geword het, kan ek tog nie onverskillig voortleef nie. Onthou wat Paulus ons leer:

Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? – Rom.6:1-2

Ons kan ons optrede so maklik verontskuldig: “Ons leef in ʼn ander tyd as die Bybelse tyd, almal maak so, ons wil nie wêreldvreemd leef nie, ons wil nie beter as ander voorkom nie”. Sommer baie redes wat aangevoer kan word.

Elke saak moet op meriete beoordeel word in die lig van God se Woord en soos reeds gestel moet elkeen vir homself besluit. Ja, sommige dinge is ooglopend verkeerd. Oor ander dinge moet ʼn mens mooi nadink.

Die vraag, wat Jesus sou gedoen het, is steeds ʼn baie nuttige meetsnoer.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here vir U Woord, U is my Redder en Bevryder….U is nader aan my as my skaduwee..dankie vir genade..Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.