ToekomsVenster: Dink anders

(Foto: Ben White/Unsplash.)

Filippense 4:8 – Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

Somtyds voel dit of ʼn mens soos wasgoed in ʼn outomatiese wasmasjien ingegooi is en al in die rondte gedraai word. Hier en daar verander die momentum maar uitkomkans is daar nie. Somtyds is die wasgoed wat in die masjien geplaas is verstrengel wanneer dit uitgehaal om opgehang of gedroog te word. Dit neem tyd om dit uitmekaar te haal en verder te versorg.

Ons gedagtes raak ook so verstrengel. Dit gee aanleiding tot slapelose nagte, bekommernis, onaangename gedagte toertjies waaroor jy min beheer het. Soos die draaibeweging van die wasproses draai jou gedagtes al meer en meer vas.

Iemand het gesê die grootste deel van ons gedagtes is herhalend en betekenisloos. Ons is vasgevang tussen gister en môre en die oomblik, die hier en nou, die lewe, gaan by ons verby.

Dink vir ʼn oomblik na oor die dinge wat deur jou “kop” gaan.

Is dit gedagtes wat stig, opbou, bemoedig, perspektief gee,  gedagtes waarheen jy wil terugkeer, wat die lewe hanteerbaar maak, wat deernis het met  jou op weg wees of is dit ongenaakbare, onvriendelike en beskuldigende gedagtes?

Gedagtes wat met onvergewensgesindheid, selfverwyt, vooroordeel, agterdog en vrees te doen het.

Ek is daarvan oortuig dat jy, soos ek, ook hiermee sukkel.

Hoe ontkom ʼn  mens hierdie eindelose, negatiewe en  onophoudelike aktiwiteit wat iewers in jou brein plaasvind?

Ons is nie slawe van ons gedagtes nie. Ons kan ons gedagtes onderwerp deur die krag van die Heilige Gees. Ons kan kies wat ons dink en wat ons akkommodeer in ons lewens. Dit mag nuus wees maar dit is inderdaad so. Die Bybel gee vir ons ʼn handige en tydige voorstel.

Vestig jou gedagtes op die dinge daar bo, sê die teks. Jy doen dit bewustelik, duidelik en gedissiplineerd.

Jy bring jou eie deurmekaar gemoed tot rus en weier doodgewoon om die negatiewe te onthaal. Jy haal eers diep asem, word bewus van jou eie menswees. Jy fokus na binne, na stil word. Jy neem dadelik afskeid van die negatiewe. Jy kies ʼn frase of gedagte wat jou kan rig. Jy sê vir jou self “wees stil en weet ek is die Heer” (lees weer Ps. 46:10). Jy laat stukkies van die frase uit totdat dit nog net “wees” is wat oorbly. Dan “wees” jy in God se teenwoordigheid. As ʼn gedagte kom laat jy dit verby gaan. Jy ontspan en gee God kans.

Begin vandag om jou negatiewe, veroordelende, afbrekende, onterende gedagtes gevange te neem.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here Jesus in Ps 139 se U dat U my ten diepste ken daarom bely ek my swakhede….dankie vir genade en dat U self my gedagtes wat so maal kan vasvat tot eer en verheerliking van U Heilige Naam

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.