ToekomsVenster: Dis aangrypend en eg

Bybel-op-klip

Foto: Aaron Burden/Unsplash.com

Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog. – Jak. 4:8-10

Omdat mense se harte ver van God is getuig hulle dade van wêreld gelykvormigheid. As die hart reg is sal die dade ook reg wees.

Esegiël getuig van die hartsverandering wat God deur sy Gees te weeg bring in die lewens van mense. Hy raak ontslae van die klipharde hart wat op self ingestel is en gee ʼn nuwe hart waarop sy liefdeswet geskrywe staan. Ons moet daagliks reken met die nuwe hart wat die Here ons gegee het en daaruit lewe.

ʼn Ander metafoor is die “sterwe saam met Christus en die opstanding as nuwe mens”. Die ou dinge het verby gegaan sê Paulus. Alles het nuut geword.

Die aangewese manier van lewe en belydenis vind nie terloops plaas nie. Dit is ʼn van harte terugkeer en toekeer na die Vader. Dit gaan gepaard met innige spyt oor die verkeerde in ʼn mens se lewe. Dis hartverskeurend en gaan gepaard met diepe spyt en oortuiging.

Ek dink onwillekeurig aan die nagmaalslied van Willie Joubert waar hy sy gebrokenheid as sondaar voor God verwoord. Dit is aangrypend en eg. Dit is hoe ons met die verkeerde in ons lewens moet handel. Beslis en eerlik. Kla, treur, huil.

Dit herinner verder aan die klaagmuur in Jerusalem waar ortodokse Jode hul lot voor God bekla. Die groot verskil is dat hulle geen vergiffenis smaak nie. Dit lê steeds in die toekoms.

As nuwe Testamentiese gelowiges weet ons dat die prys betaal is. Ons kan vrykom as ons net bereid is om ons volledig op God en sy genade te verlaat.

Moenie uitstel nie. As dit moet kla, treur en huil maar maak ten alle koste reg wat verkeerd geloop het. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. – 1 Joh. 1: 8-9 

Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. – Jesaja 1:18

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria ·

In my 3jaar se egskeidng het my hele hart vir Here gegee. Vandag kan ek se baie…baie spyt deur my EIE sonde en ongehoorsaamheid dat ek verkeerde keuse gemaak met my ex man en kinders gegee. Nou sal ek res van my lewe moet saam dra. Maar dank Here met n doel om daaruit te leer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.